Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Pretoria, wat van voertuigdiefstal aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof, na 'n lang redenasie met die landdros, tot 7 Julie uitgestel omdat die betrokke staatsaanklaer tans met siekteverlof is.
Ismael Grace word daarvan aangekla dat hy op 20 Januarie 2019 in Beaufort-Wes in besit van 'n gesteelde Ford Focus-motorvoertuig van ene OS Ogunjimi was.
Hy het die hof Donderdag meegedeel dat hy voortaan sy eie saak sal verdedig omdat die regshulpprokureur nog nie met hom gekonsulteer het nie.
"Hoe kan iemand jou verteenwoordig as hy nie met jou konsulteer nie. Ek wil niks met niemand te doen hê nie," het Grace gesê.
Grace het ook aan die hof gesê dat hy die polisie van Beaufort-Wes sowel as die ondersoekbeampte, wat reeds getuig het, wil herroep om hulle te ondervra omdat dit sy reg is.
Hy het weer sy ongelukkigheid uitgespreek oor die hantering van sy saak wat al glo meer as 40 keer uitgestel is en liewer in die hooggeregshof verhoor wil word.
Streeklanddros Ntsoki Moni, wat Grace as "advokaat" aangespreek het, het weer aan hom verduidelik dat die saak eers in die streekhof afgehandel moet word en indien hy skuldig bevind word hy 'n aansoek om verlof tot appèl kan bring.
Die landdros het dit ook aan Grace gestel dat dit sy eie skuld is dat die verhoor nie kan voortgaan nie omdat hy elke keer van plan verander.
"Vier vingers wys na uself," het die landdros gesê.
Grace het die hof ook om die transkripsie van verrigtinge tot dusver gevra wat hy wil gebruik om die staatsgetuies te herondervra omdat hy "niks kan onthou nie".
Vorige artikel: Vermeende voertuigdief op eetstaking
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'