OUDTSHOORN NUUS - 'n 3-jarige seuntjie van ASLA, Dysselsdorp, Rolin Bronwin Gertze, is Donderdag 9 Januarie oorlede nadat hy deur 'n voertuig getref is.
Volgens inligting was hy besig om die pad oor te steek toe die voertuig hom getref het. Hy het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.
Oudtshoorn Courant het Maandag 13 Januarie die familie besoek. Volgens sy ouers, Branwill Esau en Rowena Gertze, het Rolin in die pad saam met ander kinders gespeel toe die voertuig hom omgery het. Die bestuurder van die voertuig is aan hulle en die gemeenskap bekend. Rowena vertel dat hy wel na die voorval gestop het, maar het beweer dat hy gedink het dat dit 'n hond in die pad was. Die bestuurder is in hegtenis geneem, maar weer vrygelaat.
Esau is kwaad, hartseer en stomgeslaan. "Ek was by my suster se begrafnis toe ons die tyding kry, ek kan dit steeds nie glo of verwerk nie."
Branwill Esau, Jake Gertze en Rowena Gertze die familie van wyle Rolin. Foto: Louise Mouton
Die gesin is ook bekommerd dat die gemeenskap eie reg sal gebruik en self die man uitsorteer.
Rolin word beskryf as 'n besige, vriendelike en lewenslustige seuntjie aldus Gertze.
By navraag oor die voorval het die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, bevestig dat Oudtshoorn-polisie 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen het.
Leon Campher en Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het 'n kranslegging gereël vir die familie en vriende van wyle Rolin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’