KAROO NUUS - Die Wes-Kaapse regering het weereens bewys dat hy daartoe verbind is om die mees kwesbares te ondersteun, veral in 'n krisistyd tydens die onlangse twee week lange Eskom-kragonderbreking in die Sentraal-Karoo. Elektrisiteit is op 15 Februarie herstel.
Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, het Donderdag 22 Februarie, by monde van haar woordvoerder Monique Mortlock-Malgas, gesê verskeie provinsiale departemente het ingespring om geaffekteerde inwoners in die verskillende dorpe by te staan.
"Veral kwesbare inwoners het staatsondersteuning nodig gehad met bederfbare goedere wat weens die elektrisiteitsonderbreking bederf geraak het. Die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) kon meer as 5 000 kospakkies aan behoeftige huishoudings in verskillende dele van die Sentraal-Karoo, insluitend Laingsburg, Ladismith, Leeu Gamka, Swartberg, Merweville, Matjiesfontein en Prins Albert, aflewer en versprei."
Amptenare van DSD by die kospakkies wat uitgedeel is.
Volgens haar het die kospakkies meer as 17 000 mense bevoordeel.
Die departement het ook drie ouetehuise in Prins Albert, Laingsburg en Ladismith in staat gestel om diesel vir kragopwekkers te koop aangesien hul dieselvoorraad beperk was.
"DSD-amptenare, sommige van naburige dorpe het van die vroeë oggendure tot die aand vir etlike dae assesserings gedoen om te bepaal waar die grootste behoeftes was."
Spanne het verskeie uitdagings in die gesig gestaar, soos uiterste hitte, geen elektrisiteit nie, en die moeilikheid om begunstigdes vinnig te probeer bereik as gevolg van gemeenskappe en wonings wat oor wye gebiede versprei is.
“Die groot poging om duisende kospakkies in so 'n kort tyd en oor 'n uitgestrekte streek te bekom, te vervoer en af te lewer, is die resultaat van 'n toegewyde span DMO-personeellede: van die departementele leierskap tot maatskaplike werkers, maatskaplike hulpverleners, werkers en gemeenskapsontwikkelingswerkers,” sê Fernandez.
Fernandez het al die belanghebbendes bedank wat die departement ondersteun het:
“Die sukses van die voedselhulpprogram is 'n verdere bewys van die belangrikheid van samewerking om te verseker dat die mees kwesbare burgers versorg word. As regering kan ons net soveel op ons eie doen, maar wanneer ons saam met toegewyde vennote aan 'n gemeenskaplike doelwit werk, kan ons groot dinge bereik,” het Fernandez afgesluit.
DSD is besig om voedselhulpoperasies af te sluit en bly waaksaam vir enige ander psigososiale behoeftes wat in die betrokke gebied mag ontstaan.