Update
OUDTSHOORN NUUS - Die oorsaak van die tragiese vliegongeluk, wat die lewe van Nicole Mienie (21) geëis het, is nog onbekend. Sy is die dogter van plaaslike inwoners, Nico en Alicia Mienie wat hulle twee dogters, Nicole en Carmen, in Oudtshoorn grootgemaak en tuisonderrig gegee het.
Nicole was die vlieënier van die Cessna Centurion C210, VS-LMK wat op 30 Augustus omstreeks 12:00 van die lughawe, Impalila-eiland in die Zambezi-area, Namibië, opgestyg het.
Saam met haar in die vliegtuig was 'n gesin van vier van Duitsland, wat na Rundu onderweg was. Die vliegtuig het kort nadat dit opgestyg het op die oewer van die Zambezirivier neergestort. Die ongeluk het die lewens van al vyf insittendes geëis. Volgend die dagblad, The Mirror, was die Duitse gesin, Thomas Rings (59), sy vrou Evelyn (57) en hulle dogters Alicia (19) en Paulina (17) op 'n bosvakansie toe tragedie tref.
Scenic Air Namibië
Scenic Air Namibië hanteer vlugte na al die gewilde toeristebestemmings in Namibië. Die vliegtuig wat neergestort het was van Scenic Air Namibië. Michael Böttger, besturende direkteur by Scenic Air (Pty) Ltd, het in 'n mediaverklaring gesê dat die oorsaak van die ongeluk deur die Directorate of Aircraft Accident Investigation (DAAI) ondersoek gaan word.
Böttger het in 'n e-pos aan Oudtshoorn Courant vertel dat Nicole 'n absoluut wonderlike jong dame was en dat haar entoesiasme en passie by die kantoor enige bui kon ophelder.
"Sy was 'n baie bekwame en professionele vlieënier en geliefd deur almal met wie sy in aanraking gekom het. Ek is baie hartseer oor hierdie ontydige verlies en ek kan net my meegevoel aan haar familie oordra."
In 'n kort biografie op Scenic Air se webtuiste, vertel Nicole dat haar passie altyd by vlieg en die natuur gelê het.
Aifa (International Flight Training Academy)
Sy het haar kommersiële lisensie as vlieënier in 2019 in Oudtshoorn begin en in 2021 voltooi. Christo Stroebel, hoof- uitvoerende beampte van Aifa, vertel dat hy destyds vir haar klasgegee het.
"Sy het regs voor in die klas tussen twee Chinese studente gesit en was die enigste vrou onder al die mans, maar hulle was mal oor haar. Sy was altyd hulpvaardig en het hulle met Engels bygestaan."
Hy sê Nicole was 'n goeie vlieënier en student en sal hy haar onthou as iemand wat almal wou help.
Huldeblyke
Lisa Meyer, 'n familievriend van die Mienies, sê daar stroom daagliks huldeblyke in van vriende en mense wat Nicole geken het. Almal vertel van die positiewe impak wat sy op hulle gehad het.
"Sy het haar vliegtuigvlerke nou verruil vir engelvlerke."
Nicole word oorleef deur haar ouers, Nico en Alicia Mienie en suster Carmen Mienie, wat binne die volgende maand in die huwelik tree.
Oudtshoorn Courant het die familie gekontak en respekteer die feit dat hulle vir eers nie oproepe van die media wil neem nie.
Die gesin sal, sodra reëlings gefinaliseer is, meer inligting verskaf.
Vorige artikel: Vliegongeluk eis jong lewe
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'