Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Meer as 30 vliegtuie met ongeveer 50 besoekers het verlede naweek op die Oudtshoorn-lughawe geland vir 'n naweek se kampering by die lughawe.
Met Morné Jonker en Eugene de Villiers op die reëlingskomitee is die jare lange tradisie van 'n Fly In weer na 'n paar jaar se afwesigheid, herleef.
Jonker sê hy het dadelik aan die werk gespring om te verseker die Fly In is 'n sukses soos in die verlede.
"Ek het al my vliegvriende en vliegklubs geskakel en die woord versprei.
"Gelukkig het die weer mooi saamgespeel. Op die vliegveld se gronde is 'n gesellige atmosfeer geskep met tente wat opgeslaan is en gerieflike plek vir braai.
"Almal kon naby hul vliegtuie kamp en die naweek geniet."
Saterdagoggend het al die vliegtuie na Prins Albert gevlieg. Van die Prins Albert-lughawe is almal met 'n bussie na Dennehof vervoer om aan 'n smaaklike ontbyt te smul.
Die middag het hulle teruggevlieg en langs die vuur gesit met 'n skaap op die spit.
Kyk 'n video hieronder.
So is die vlieëniers van Prins Albert-lughawe vervoer om te gaan ontbyt eet.
'n Videovertoning van die bekende Mike Blyth van Johannesburg, wat verskeie kere om die wêreld 'sling' vliegtuie gevlieg het, was deel van die vermaak.
Jonker vertel, "Die langste skof en wêreldrekord is 'n vlug vanaf Rio na Kaapstad, wat 27 ure oor die Suid-Atlantiese oseaan geduur het.
"Dit is met 'n klein enkel motoriese vliegtuig gevlieg."
"Die hoogtepunt van ons Fly In naweek was Dave Mandel, met sy Chegiese L39 jet. Hy het almal en die dorp vermaak met sy vertonings en vernuftigheid.
"Die plaaslike mense en klublede het die naweek terdeë geniet en daar word reeds beplan vir volgende jaar Oktober om die naweek se Fly In nog groter te maak."
Die laaste Fly In is sewe jaar gelede aangebied.
Die pragtige uitsig vanaf die vliegklub.
Jonker het Aifa en hul personeel bedank vir hul diens en bystand in die beheertoring en die gebruik van die parkeerplekke."
Die vliegklub is daagliks van 13:00 oop. "Die publiek is welkom om middae die geriewe te kom geniet en hul aan die mooi uitsig oor die Klein-Karoo berge te verwonder."
Daar is daagliks vliegaktiwiteite van beide vliegskole, Aifa en TFASA.
Lees 'n vorige artikel: Vlieëniers kamp uit op Oudtshoorn
ARTIKEL EN VIDEO CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'