OUDTSHOORN NUUS - Lezer Pedersen, 'n 2022-matrikulant verbonde aan Hoërskool Oudtshoorn, het onlangs sy matriekuitslae ontvang en 'n algehele 73,86% behaal.
Wat hierdie prestasie so merkwaardig maak, is dat Lezer op die ouderdom van ses met outisme (Asperger), met talle sensoriese, lees en skryf uitvalle gediagnoseer is.
Hy kan alleenlik syfers en wiskundige bewerkings lees en alle ander vorme van onderrig kan hy slegs ouditief of met die hulp van 'n e-reader pen verwerk.
Hy het ook 'n ongelooflike vermoë om massa feite vinnig te memoriseer en weer te gee.
Volgens Mariska Pedersen, moeder van Lezer, is hierdie suksesverhaal 'n lang en emosionele reis wat harde werk geverg het.
"Daar was hoogte- en laagtepunte en om Lezer te ondersteun het dit 'n spesiale spanpoging van familie, tutors en opvoeders geverg," vertel sy.
Op die ouderdom van vier is hy Little Bo-Peep-kleuterskool toe en ondergaan hy 'n totale "taalverwisseling" – van Afrikaans na Engels. Sy Engelse woordeskat, kennis van geskiedkundige gebeure en algemene kennis het volgens Mariska astronomies uitgebrei nadat hy die verwisseling gemaak het. Hy het graad een tot sewe by Laerskool Principia voltooi.
Lezer se oupa, wat 'n oudonderwyser is, het ook as sy tutor ingetree en volgens Mariska het hy 'n groot rol in sy akademiese sukses gespeel.
Graad agt en nege het hy in Mosselbaai voltooi en in gr. 10, met die uitbreek van die Covid-19 pandemie sluit hy by Hoërskool Oudtshoorn aan.
Volgens Mariska het Struisies se uiters bekwame opvoeders sy potensiaal raakgesien en tesame met die toewyding van sy tutor, Charne Dalton, het hy sy universiteitstoelating behaal.
Wat sy storie so uniek maak, is sy sterk wilskrag, deursettingsvermoë en pligsgetrouheid om die hoë doelwitte wat hy vir homself stel, te bereik - ten spyte van al die uitdagings, soos sy pa se afsterwe in die middel van sy matriekjaar.
Sy ma vertel dat hy opreg is en omgee vir sy medemens en met sy nederige geaardheid het hy die vermoë om mense se lewens aan te raak. "Hy leef sy Christenskap uit en streef daarna om op die regte pad te bly."
Tans is hierdie merkwaardige jong man 'n student by die Universiteit Stellenbosch en gaan hy Bsc biodiversiteit en ekologie studeer. Mariska vertel dat hy deurgaans daarna streef om homself te bemagtig om selfstandig en onafhanklik te leef.
"Ons wil kinders en ouers wat uitdagings soos hierdie in die gesig staar, bemoedig en sê dat dit moontlik is. Dit was nie altyd maklik nie, dit is harde werk, baie lees, deure wat toeslaan, maar dan maak jy maar 'n ander een oop. Hou aan totdat jy die ritme kry wat by jou kind pas. Alles is moontlik," bemoedig Mariska.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'