OUDTSHOORN NUUS - Die vinnige optrede van werkers wat besig is met die opgradering van 'n vulstasie, het vanmiddag verhoed dat 'n motor deur 'n brand verswelg is.
Die brandweer en ander nooddienste was vinnig op die toneel, maar die brand is toe reeds geblus.
Die bestuurder van 'n Fiat Uno het op die toneel gesê sy het vanuit Jan van Riebeeckstraat in Voortrekkerweg ingedraai toe rook skielik onder die enjinkap uitborrel. Sy het voor die vulstasie, waar kontrakteurs tans werk, gestop en uit die motor gehaas.
Die werkers was kort daarna met brandblussers byderhand en kon die brand blus voordat dit na die res van die motor versprei.
Die brand het ook 'n verdere gevaar ingehou aangesien brandstoftenks wat by die vulstasie verwyder is, kort voor die voorval op 'n vragmotor gelaai is naby die plek waar die motor gebrand het.
Die bestuurder is nie beseer nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'