OUDTSHOORN NUUS - Vier vermeende diewe wat vandeesweek helder oordag by winkels in die Checkers-winkelkompleks wou steel, het hul rieme styf geloop toe twee wakker sekerheidsbeamptes hulle vasgetrek het. Een van die diewe is glo werksaam by 'n bekende sekerheidsmaatskappy op Oudtshoorn.
Onder die items wat dié diewe wou steel was 'n paar swart Grasshopper-skoene, skaapvleis, toiletware en kos.
Volgens 'n werknemer by die skoenwinkel in die winkelkompleks, wat verkies om anoniem te bly, was sy dadelik op haar hoede toe die vrou wat glo die skoene wou steel die winkel binnekom. Sy het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hulle reeds 'n geruime tyd vermoed dat sy items uit die winkel steel.
"Ons was egter op vorige geleenthede nie heeltemal seker nie, maar dié keer het ek dadelik aan haar liggaamstaal opgemerk dat iets nie pluis is nie," het sy gesê. "Terwyl ek besig was om klante te help het ek uit die hoek van my oog gemerk dat sy in haar handsak krap waarna ek onmiddellik my medekollegas ingelig het. Ons het toe dadelik die sekerheidsbeamptes in kennis gestel en hulle gevra om haar te visenteer as sy die winkel verlaat."
Die vrou was glo sowat 20 tree buite die winkel toe twee sekerheidsbeamptes (Marc Abrahams en Renaldo Africa) haar voorgekeer het. Sy het eers ontken dat sy enige iets uit die winkel geneem het, en die blaam op twee mans geplaas wat ook in die winkel was. Abrahams het die vrou terug na die skoenwinkel geneem waarna die werknemer in 'n privaat kamer die Grasshopper-skoene in haar handsak gekry het.
Die man wat Woensdag laatmiddag gevang is na hy na bewering toiletware gesteel het.
'n Vrou wat ook gevang is na sy na bewering kos gesteel het.
Volgens die werknemer was daar geen gewone vroulike items in die vrou se handsak behalwe dié skoene nie. Intussen het Africa besluit om die twee ander verdagtes wat dié vrou uitgewys het, agterna te sit. Hy vertel dat een van die verdagtes hom in Hoogstraat gewaar het en dadelik weggehardloop het.
Africa het die verdagte agternagesit en het sowat 700 meter gehardloop. Die verdagte het gestruikel en in die proses het 'n paar nuwe sandale van die skoenwinkel uit sy rugsak geval.
"Hy het ongelukkig toe weggekom, maar ek was net bly dat ek die gesteelde skoene kon terugkry," het 'n trotse Africa gesê.
Africa is nou maar eers twee weke werksaam by die sekerheidsmaatskappy, maar het in die kort periode reeds vier diewe met sy flinkheid vasgetrek. Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is al vier verdagtes gearresteer en word sake van winkeldiefstal teen hulle ondersoek.
Die man wat deur sekerheidsbeamptes vasgetrek is na hy na bewering vleis gesteel het.
Die vrou wat na bewering Woensdag met 'n paar gesteelde skoene gevang is (links) saam met die polisie na sy ondervra is. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'