Update Video
CALITZDORP NUUS EN VIDEO - Spanwerk en toewyding van dié dorp se polisie het daartoe gelei dat vier verdagtes binne enkele dae aangekeer is vir die moord op Lourens de Villiers (66), 'n bekende gemeenskapslid en oudnuusregisseur van die SAUK.
Die bevelvoerder van Calitzdorp-polisie, kapt. Ian Meyer het Dinsdag gesê sy lede het verlede week binne twee dae reeds 26 mense ondervra met nog talle name op hulle lys en het teen Vrydag reeds een verdagte in die oog gehad.
De Villiers se liggaam is verlede Dinsdagmiddag 13 April, om 16:00 met veelvuldige beserings buite sy woonplek op die Visarend-kampeerterrein by die Calitzdorp-dam gevind.
Die eerste drie verdagtes wat die naweek gearresteer is, het Maandag in die hof op Calitzdorp verskyn en verskyn vandag (22 April) weer om regsverteenwoordiging te bekom. Twee van die verdagtes is nog minderjarig, 13 en 15, en die derde een is 30. Die vierde verdagte (23) wat die polisie sedert die naweek ontwyk het, is gisteroggend (Woensdag 21 April) in hegtenis geneem en sal waarskynlik ook vandag in die hof verskyn.
Kyk 'n video hieronder:
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse kommunikasiebeampte, het Sondag die arrestasie van die eerste drie verdagtes amptelik bevestig. Familielede van De Villiers het onraad vermoed toe hulle sedert Saterdag 10 April geen kontak met hom kon maak nie en het Dinsdag 13 April die polisie gekontak. Twee lede van die polisie is na dié oproep na die kampterrein en het De Villiers se erg beseerde liggaam 'n paar treë van die houthuis waar hy gewoon het, ontdek. Die huis is buite sig van die piekniek- en visvangarea en dit is onwaarskynlik dat toevallige besoekers die liggaam sou opmerk.
Volgens Spies het paramedici De Villiers op die toneel dood verklaar. De Villiers se Hyundai-bakkie is verlede Dinsdagmiddag verlate in die veld naby Matjiesfontein gevind.
Oudtshoorn Courant het hierdie week met verskeie mense in Calitzdorp gesels en stukkies van die moord-legkaart het in plek geval.
Dit blyk dat mense wat Saterdag daar visgevang het, nog vir De Villiers op die terrein gesien het. Alhoewel die dag van die moord nog nie bekendgemaak is nie, het dit waarskynlik oor die naweek plaasgevind. Van die inligting is vertroulik aangesien al die verdagtes nog nie aangekeer is nie.
Dit blyk dat die ma van een van die verdagtes die polisie Saterdag 17 April gekontak het en gesê het dat haar minderjarige seun inligting het. Nadat die seun homself aan die polisie oorgegee het, is hy in hegtenis geneem en die polisie se vermoede oor een verdagte is bevestig.
Die polisie is na 'n huis in Bergsig, 'n woonbuurt in Calitzdorp, waar 'n 30-jarige verdagte in hegtenis geneem is. Volgens Spies is items wat aan De Villiers behoort het, in die huis gevind. Dié vonds het onder andere 'n musieksentrum en die Hyundai-bakkie se sleutels ingesluit. Die arrestasie van die man is Sondag 18 April, opgevolg met die arrestasie van 'n 15-jarige seun, ook van Bergsig.
Teen Maandag het die polisie presies geweet wie die vierde verdagte is en hy kon daarin slaag om hulle tydelik te ontwyk, maar is Woensdag na toegewyde ondersoekwerk aangekeer.
Met die besoek van Oudtshoorn Courant aan die terrein was dit duidelik dat De Villiers in sy twee jaar as bestuurder van die terrein groot verbeteringe aangebring het. Die motief vir sy sinnelose moord is nog nie bekend nie.
"Ek wil net vir al die polisielede van Calitzdorp en dié van buite wat ons bygestaan het om die arrestasies uit te voer, opreg bedank vir hulle toewyding," het kapt. Meyer Dinsdag gesê.
Lourens de Villiers (66) het die Visarend-kampeerterrein die afgelope twee jaar bestuur voordat hy meer as 'n week gelede wreed vermoor is. Foto verskaf
'n Polisievoertuig by die hek van die Visarend-kampeerterrein.
Vorige artikel: Drie vas na Calitzdorp-moord
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'