PRINS ALBERT NUUS - Die verhoor van ’n man en drie vroue van Prins Albert wat van moord aangekla word, is na die sluiting van die staat se saak vir getuienis van die verdediging in die Oudtshoorn-streekhof tot 15 April uitgestel.
Die saak teen Jaco Guga, Fiola Scheffers, Amelda Katzen en Geraldine Katzen, spruit uit drie voorvalle byna sewe jaar gelede, op 1 en 2 Maart 2013, wat gelei het tot die dood van Ellen Piedt, Guga se saamleefmaat.
Piedt is glo geskop, getrap, met die vuiste geslaan, haar kop teen ‘n muur gekap, en met klippe of ‘n baksteen gegooi.
Die eerste staatsgetuie, Janine Paulsen (23), het getuig dat sy gesien het hoe Guga die oorledene se kop in ‘n taverne meer as twee keer so hard teen ‘n muur kap dat sy die trillings in haar rug kon voel.
Toe sy Guga daaroor aanspreek het hy glo gedreig om haar ook te klap.
Johanna Arends (44) het getuig dat sy die oggend van 2 Maart 2013 mense in die straat hoor skel het en duidelik die oorledene se stem kon identifiseer.
Sy is na buite en kon sien hoe drie vroue die oorledene jaag.
Christine Lottering (53) het getuig dat sy gesien het hoe Guga die oorledene onder ‘n lamppaal skop en sy op die grond val. Sy kon ook sien hoe Guga die oorledene na hul blyplek sleep.
Wenzel Botha verskyn in opdrag van die Regshulpraad vir Guga en adv. Stephen Lourens vir die drie vroue.
Elaine Plaatjies is die aanklaer.
Die saak is vir verdere verhoor deur streeklanddros, Ntsoki Moni, tot 15 April uitgestel vir die getuienis van ‘n staatsgetuie wat die staat aan die verdediging beskikbaar gestel het.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'