OUDTSHOORN NUUS - Twee skole in Oudtshoorn, Laerskool Laurus en Eden Karoo het onlangs vier studente van Nederland vir hulle internskap aanvaar.
Hierdie studente is met hulle tweede jaar in sosiale-ontwikkeling en kindersielkunde besig.
Wat hierdie so merkwaardig maak is dat studente wat in hierdie rigting studeer glo eers in hul derde jaar die geleentheid kry om oorsee aan hulle internskap te werk. Hierdie vier sien hulself as die pioniers vir die tweedejaar studente wat in hul voetspore gaan volg.
Die studente bly vanaf 23 September by John en Harriet Marais. Die Marais werk onder die vaandel van die stigting Global Serving Hands. Hierdie stigting bied Nederlanders die kans om vrywillige werk of hul internskap in Oudtshoorn te voltooi en word besoekers aan alle aspekte - persoonlik en professioneel - aan Oudtshoorn blootgestel.
Eva Buijs (21), Anniek Timmermans (23), Fise Smulders (21) en Mirre Hoff (21) vertel dat hulle verbaas is oor die omgee en liefde wat Suid-Afrikaanse kinders vir mekaar het. Dat kinders hier moet leer om met niks iets te maak - daar word heerlik met handgemaakte speelgoed gespeel.
"Kinders in Suid-Afrika leer soos hulle speel, hulle kry seer en so leer hulle, in Nederland word kinders oorbeskermend groot - half bang gemaak om seer te kry," vertel hulle.
Volgens hulle verskil kinderopvoeding in Nederland dramaties teenoor Suid-Afrika, en wou hulle graag ervaar hoe hier met kinders gewerk word om sosiale en emosionele probleme te hanteer.
"Hierdie is tog ons wêreld waarin ons kinders moet grootmaak, hierdie is die volgende generasie wat ons planeet moet bestuur," sê hulle. As deel van hulle kursus moet hulle opdragte voltooi rondom hulle ervaringe en die verskille in opvoeding.
Op 16 Desember gaan hulle terug na Nederland en sê hulle in een stem dat hierdie ervaringe hulle lewens verander het. "Ons beveel dit vir enige student aan, dit was 'n voorreg om deel van hierdie pragtige gemeenskap te kon wees."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'