OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse Heuningbostee-koöperasie, of WCHTC in Oudtshoorn, sal nou 2 000 teesakkies per uur kan vervaardig nadat finansiering van R202 962 van die Nasionale Ontwikkelingsagentskap (NDA) die aankoop van 'n teesakkieverpakkingsmasjien moontlik gemaak het.
"Dit is 'n groot deurbraak vir die koöperasie. Tot op hierdie stadium kon ons net die heuningbostee verwerk en in klein herseëlbare plastieksakkies verpak. Nou sal ons 2 mg-teesakkies kan opmaak wat verder in bokse van 40 teesakkies teen 'n kleinhandelprys van R59,00 per boks verpak kan word. Dit sal ons in staat stel om meer werk te skep en die koöperasie te laat groei deur die teesakkiedienste aan ander teemakers te verskaf - vervaardigers wat nie die masjien het nie," sê Raoul du Toit, direkteur by WCHTC.
Volgens Du Toit meet en verseël die teesakkiemasjien die presiese hoeveelheid van die tee, sny die sakkies in die regte grootte en produseer dit 'n voltooide teesakkie.
Kruietee
Heuningbostee is 'n kruietee wat inheems aan Suid-Afrika is en in die berge verbou word, meestal langs die Wes- en Oos-Kaapse kusstreke. WCHTC kweek hul eie tee langs die Swartbergreeks. Die heuningbostee word geoes, verwerk, gesweet en versnipper en later in sakke verpak.
Hierdie spesifieke soort tee het verskeie gesondheids-voordele, dit dien ook as 'n antioksidant en help met effektiewe gewigsverlies.
Heuningbosteebedryf
Die heuningbosteebedryf in Suid-Afrika is 'n belangrike ekonomiese groeisektor en is deur die regering geoormerk vir die industrialisering van inheemse medisinale en aromatiese plante en om werksgeleenthede in voorheenbenadeelde gemeenskappe te skep deur hul inheemse kennisstelsels in te span om ekonomiese waarde te skep.
WCHTC neem deel aan plaaslike, streek- en internasionale uitstallings om die heuningbostee te bemark, insluitend die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en het onlangs by die Saitex Event by Gallagher Estate in Midrand, Gauteng verskyn.
(Berig verskaf deur die NDA en verkort)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’