OUDTSHOORN NUUS - Een van die KKNK se gunsteling vertonings, Frank Opperman en Dana Snyman se Donkie, is weer op 23 Mei op Oudtshoorn op die verhoog.
Hierdie keer gaan die wins van die vertoning egter vir liefdadigheid. Die winste word vir die mediese koste van die tweejarige Hanjo van Heerden aangewend.
Hanjo se ma, Celize, vertel dat hy op 11 maande met serebrale gestremdheid gediagnoseer is.
"Hy is op 33 weke prematuur gebore. Dit was 'n gekompliseerde kraamproses en hy was drie weke in die neonatale intensiewe sorgeenheid. Op 'n stadium het dit kritiek met hom gegaan."
Volgens haar het sy en haar man, Malan, verskeie uitdagings by die huis ook gehad.
"Almal het ons probeer gerusstel en gesê hy het 'n agterstand omdat hy vroeg gebore is, maar op ses maande kon ons as ouers sien iets is nie reg nie. Hy het onophoudelik gehuil en daar was geen vordering met sy fisiese ontwikkeling nie."
Die ouerpaar het Hanjo na 'n arbeidsterapeut geneem en na drie maande se terapie en slegs beperkte vordering is breintoetse gedoen.
"Hy is toe voor sy eerste verjaardag met serebrale verlamming gediagnoseer. Met verdere toetse is daar ook gewys dat dié verlamming Periventricular leukomalacia (PVL) met gedeeltelike sigskade en 'n vorm van epilepsie, veroorsaak het."
Sedertdien ontvang Hanjo weekliks fisioterapie, arbeidsterapie en spraakterapie en moet gereeld pediaters en neuroloë besoek.
Volgens Celize moet Hanjo ook spesiale stutte vir sy voete kry om hom met sy postuur en die ontwikkeling van sy onderlyf te help.
"Die mediese onkostes is hoog. Ons het al verskeie aansoeke gedoen vir alternatiewe mediese voordele en ons is tans besig met die vierde poging met behulp van al die mediese verslae en hoop vir goedkeuring. Hanjo toon goeie vordering met behulp van die gereelde behandeling en ons is baie opgewonde oor kruip wat sy volgende mylpaal is."
Celize sê hulle hoop om met die vertoning genoeg wins te maak om 'n gedeelte van die mediese uitgawes te dek.
"Ons waardeer almal se ondersteuning tot dusvêr ongelooflik baie."
Kaartjies vir Donkie is teen R100 by die Herrie beskikbaar. Die vertoning van Donderdag 23 Mei, begin om 18:30 in Langenhoven Gimnasium se skoolsaal. Daar sal ook verversings verkoop word en 'n skildery sal ook ten bate van Hanjo opgeveil word.
Vir meer inligting kontak Celize by 082 415 4458.