OUDTSHOORN NUUS - Daar is tans vyf vure wat brand langs die Swartbergpas-berge volgens inligting vanaf die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Die afgelope paar dae was daar 'n hele paar veldbrande in die Klein-Karoo, Eden-distrik, asook die Hessequa-gebied.
Die veldbrand in Jongensfontein naby Stilbaai is onder beheer, maar die veldbrand by Kammanassie brand nogsteeds. Die uiterse hitte in die gebied, asook sterk winde het veroorsaak dat die veldbrande vinnig versprei het.
Tot op hede is geen infrastruktuur in gevaar om af te brand nie, maar bly die warm weerstoestande 'n kommer vir brandweerpersoneel.
Tans is daar ook brande by Buffelsdrift, noord van die N9, asook in Knysna by Windmeulnek, noord van Karatara.
Geintegreerde brandbestuur vennote is besig om operasionele planne uit te rol om al die veldbrande te hanteer. George, Oudtshoorn- en Knysna-munisipaliteite is almal betrokke by die spanpoging.
Op hierdie stadium is daar geen gevaar vir lewens- of struktuurverliese nie.
Die publiek word gevra om indien hul 'n veldbrand opmerk om dadelik die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se noodnommer te skakel by 044 805 5071 of per WhatsApp op 081 709 5193.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’