OUDTSHOORN NUUS - Verpleegsters kry nie altyd die erkenning vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen nie. Hulle red mense se lewens en dra dikwels, soos 'n Simon van Sirene, mense se kruis wanneer hulle self dit nie kan doen nie.
Internasionale Verpleegstersdag word jaarliks wêreldwyd op 12 Mei, die geboortedag van Florence Nightingale, gevier.
So het ds. André Boezak van die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) Vrydag tydens die viering van Internasionale Verpleegstersdag by Oudtshoorn-hospitaal gesê.
"Die gemeenskap het julle so nodig omdat jul werk grens aan wat Jesus gedoen het. Julle red mense se lewens, maar word nie waardeer nie. Dankie vir die werk wat julle doen en moenie ophou daarmee nie," het Boezak die verpleegsters bemoedig.
"Julle is spesiale mense in die samelewing, maar hoeveel mense kom nadat hulle ontslaan is en weer gesond is, terug na die hospitaal om dankie te sê?"
Die mediese bestuurder van die hospitaal, dr. Charles Dreyer, het in sy boodskap die verpleegsters bedank vir die werk wat hulle doen en gevra om nie te vergeet hoekom hulle die beroep gekies het nie.
"Ons leef in tye van groot onsekerheid en veral oor die besnoeiing van die begroting vir gesondheidsorg."
Die streekdirekteur: gesondheidsdienste, Zee Brickles, het 'n beroep op die verpleeg-sters gedoen om daagliks hul wonings in 'n goeie luim te verlaat.
"Daar word opgekyk na verpleegsters. Verpleging is 'n roeping, Wees toegewyd en maak van elke dag verpleegstersdag," het Brickles gesê.
Die verpleegsters het tydens die funksie ook weer hul verpleegstersgelofte afgelê en daarna aangesit vir 'n heerlike ete.
Dank is uitgespreek teenoor die borge van die dag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’