OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Oudtshoorn wat van winkeldiefstal en roof met verswarende omstandighede aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel nadat die landdros nie sy pleitverduideliking wou aanvaar nie.
Christiaan Maxim het skuldig gepleit op die twee klagtes van diefstal. Maxim het biltong ter waarde van R271 by Shoprite en twee bedoortreksels ter waarde van R359 by Pep Stores gesteel.
Hy het egter onskuldig gepleit op 'n klagte van roof met verswarende omstandighede na hy 'n boks sjokolade ter waarde van R324 by Wes Handelshuis gesteel en 'n winkelassistent met bottelnek gedreig het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het 'n pleit van skuldig op 'n klagte van diefstal en aanranding vir die voorval by Wes Handelshuis geweier omdat dit nie een klagte kan wees nie.
Volgens haar is dit twee verskillende klagtes wat beteken dat Maxim dan tereg staan op altesaam vier aanklagte.
Sy het die saak tot vandag (26 April) uitgestel en Maxim se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, versoek om hieroor te besin en 'n nuwe pleitverduideliking op te stel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'