OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Arcadia Pretoria, wat van voertuigdiefstal, alternatiewelik die besit van ‘n gesteelde voertuig, aangekla word, en tans op ‘n eetstaking is omdat hy nie in die streekhof verhoor wil word nie, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof tot 1 Junie uitgestel.
Ismael Grace, wat deur streeklanddros Ntsoki Moni as “advokaat” aangespreek is, het die hof meegedeel dat hy ontevrede is met hoe sy saak deur die hof hanteer word en dit Vrydag al sy 46ste verskyning in die distriks- en streekhof was.
Hy het die hof ook meegedeel dat hy op ‘n eetstaking is en hy aansoek wil doen om in die Kaapse hooggeregshof verhoor te word.
Die landdros het aan hom verduidelik dat hy eers na die afhandeling van sy saak, en indien hy skuldig bevind word, ‘n aansoek om verlof tot appèl kan bring.
Grace, wat met 'n loopraam oor die weg kom, het lank met die landdros geredeneer en bygevoeg dat hy die mandaat van sy regshulpprokureur beëindig het en voortaan sy eie verdediging sal waarneem.
Hy word daarvan aangekla dat hy op 20 Januarie 2019 in Beaufort-Wes in besit was van ‘n gesteelde Ford Focus ter waarde van R80 000, die eiendom van ene, OS Ogunjimi.
Sy aansoek om borgtog was onsuksesvol en hy bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'