Trane van blydskap het Dinsdag in die streekhof gevloei toe 'n jong man, wat van verkragting aangekla is, vrygespreek en ontslaan is.
Jonathan Jansen is daarvan aangekla dat hy die oggend van 7 Oktober 2018 die klaagster, wat hy goed ken, in die buitekamer op die erf van haar tante verkrag het.
Jansen het die betrokke oggend saam met die klaagster en 'n vriendin 'n paar biere gedrink. Die vroue was van 'n nagklub onderweg huis toe toe hulle hom raakgeloop het. Die klaagster se vriendin is later huis toe. Volgens Jansen wou die klaagster nie huis toe gaan nie en het gesoek na 'n R100 wat verdwyn het. Volgens hom het sy hom nadergetrek en self ontklee waarna hulle geslagsgemeenskap mét haar toestemming gehad het. Die klaagster het dit ontken.
Streeklanddros Ntsikoni Moni het in haar uitspraak gesê daar is geen getuienis voor die hof dat die klaagster gehuil of geskree het nie. Sy het niks van verkragting aan haar tante gesê nie en eers later na die polisie gegaan.
"Daar is groot twyfel by die hof. Die klaagster is nie gedreig en haar mond was nie toegebind nie. Daar het ook kinders op die erf gespeel," het die landdros gesê.
Die hof het die beskuldigde die voordeel van die twyfel gegee en hom vrygespreek waarop hy, sowel as familielede en vriende, openlik begin huil het.
Twee vroue wat begin hande klap het, is deur die landdros gevra om die hofsaal te verlaat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'