CALITZDORP NUUS - Die aansoek van 'n 55-jarige vrou van Calitzdorp om verlof om teen haar skuldigbevinding en vonnis vir die moord op haar saamleefmaat te appelleer, is in die Oudtshoorn-streekhof van die hand gewys.
Elizabeth Baartman, is op 22 Oktober 2021 verlede jaar 10 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op Henry Pietersen.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die aansoek teengestaan en gesê onafhanklike getuies het getuig dat Baartman die betrokke dag die aggressor was. Sy het vroeër die dag met 'n mes in 'n bank gesteek waarop die oorledene gesit het en hom agtervolg toe hy die huis verlaat het. Volgens hom is sy korrek skuldig bevind en met vonnis begenadig.
Volgens Baartman se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof fouteer met beide die skuldigbevinding en vonnis.
Volgens hom glo die beskuldigde dat redelike vooruitsigte bestaan dat 'n ander hof tot nuwe besluitnemings kan kom.
Die staat het nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie en moes Baartman slegs aan strafbare manslag skuldig bevind geword het.
Wat die vonnis betref het die hof ook nie genoeg afgewyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar nie en die belang van die gemeenskap oorbeklemtoon.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het in haar uitspraak gesê sy is van mening dat geen ander hof tot 'n ander bevinding sal kom nie.
Volgens die landdros is geen aspek oorbeklemtoon vir die skuldigbevinding en vonnis nie. Die oorledene het volgens getuies, onder wie familie van die applikant, die betrokke dag nie 'n wapen by hom gehad toe hy by die huis uitgestap en deur Baartman agtervolg is nie.
Hy is drie keer gesteek terwyl sy voorgegee het dat sy hom net eenkeer gesteek het.
Wat die vonnis van 10 jaar betref het die hof reeds afgewyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir 'n eerste oortreder soos Baartman.
Verwante artikel: Vrou kry 10 jaar vir moord
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'