OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Welbedacht, wat van verkragting aangekla word is Vrydag in die Oudtshoorn vir uitspraak uitgestel.
Hy het glo die vrou met 'n stok verkrag omdat sy die betrokke dag weer gedrink het.
Johannes Dondas ontken dat hy die daad op Sondag 20 Oktober 2019 met die vrou gepleeg het.
'n Buurvrou, Maria Jordaan, het getuig dat sy die betrokke middag na Dondas se huis gegaan het en die klaer haar meegedeel het dat hy haar twee keer met die stok verkrag het. Haar jeans was vol bloed en sy het in pyn verkeer.
Sy het gaan hulp soek, maar eers die Maandag weer teruggekeer omdat sy nie lugtyd gehad het om die polisie of 'n ambulans te bel nie.
Dondas se ma het getuig dat die klaer die beserings kon opgedoen het toe sy onder 'n boom gaan urineer het en toe op die stok gaan sit het.
Volgens Dondas het hy die Sondag soos gewoonlik gebraai en later vir homself gevra: "Waar is die vrou nou weer?"
Toe sy by die huis aankom het sy oor stukke hout wat op 'n trappie gelê het, geval.
Volgens hom het hy nie beserings of bloed aan haar gesien nie.
Hy het ook getuig dat die klaer in die verlede verskeie kere aan hom gesê dat sy hom tronk toe sal laat gaan sodat hy 'n man kan word.
"Ek het nooit verstaan wat sy daarmee bedoel het nie."
Hulle het die aand gaan lê en saam na 'n gebedsversoekprogram op EDENfm geluister.
Volgens hom maak sy ma 'n fout in haar getuienis dat die klaer onder 'n boom gaan urineer en op 'n stok gaan sit het.
Volgens hom het die klaer met haar maag op die stukke hout op die trappie geval omdat sy baie dronk was.
Dr. Odette Pfeifer het getuig dat dit onmoontlik is vir iemand om soveel beserings op te doen deur een keer op 'n stok te val.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is na Dondas se getuienis vir uitspraak uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'