PRINS ALBERT NUUS - Die verhoor van 'n man wat van verkragting en aanranding aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel vir 'n nuwe regsverteenwoordiger om vir die beskuldigde op rekord te kom.
Denzil Morris (31) pleit onskuldig op die aanklagte dat hy op 20 Augustus 2020 die 30-jarige vrou in sy huis verkrag en haar ook met 'n kapmes gesteek of gesny het.
Die vrou het getuig dat sy die betrokke aand saam met 'n vriendin onderweg was na 'n kafee toe Morris uit die bloute sy verskyning maak, haar gegryp en gedwing het om saam met hom na sy opslaanhut te gaan.
Hy het haar glo twee keer verkrag, die opslaanhut se deur gesluit en haar gedwing om die nag by hom te slaap. Sy kon eers die volgende oggend na die polisie en hospitaal gaan.
Volgens haar het sy om hulp geroep, maar niemand het haar kom help nie.
Sy het Morris se weergawe dat hulle steeds in 'n verhouding is en sy vrywilliglik saam met hom gestap het, ontken.
Volgens die klaagster het Morris die opslaanhut se deur gesluit en 'n mes op die bedkassie en die kapmes teen die deur neergesit. Morris erken dat hy seks met die vrou gehad het, maar dat dit met haar toestemming was. Volgens hom het sy ook die betrokke aand self besluit om saam met hom te gaan. Hy ontken ook dat hy haar met die dood gedreig en beseer het.
Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en Morris bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'