PRINS ALBERT NUUS - 'n Man wat aan verkragting en aanranding van sy eksmeisie skuldig bevind is en geen tekens van berou toon nie, is Vrydag 10 Desember in die Oudtshoorn-streekhof 20 jaar gevangenisstraf opgelê.
Denzil Morris (31) het onskuldig gepleit op die aanklagte dat hy op 20 Augustus 2020 die 30-jarige vrou in sy blyplek verkrag en haar ook met 'n kapmes gesteek of gesny het.
Sy getuienis is egter deur streeklanddros Daniel Boks as leuenagtig bevind.
Die vrou het getuig dat sy die betrokke aand saam met 'n vriendin onderweg was na 'n kafee toe Morris sy verskyning met 'n panga gemaak, haar gegryp en gedwing het om saam met hom na sy hut te gaan. Haar vriendin het met haar baba weggehardloop omdat sy bang was die kind kry seer.
Morris het die klaer toe na sy opslaanhut op die erf van sy moeder getrek.
Daar het hy die deur gesluit, die kapmes daarteen gesit haar op sy bed neergegooi, uitgetrek en twee keer verkrag terwyl daar ook 'n oop mes op 'n bedkassie gelê het.
Hy het haar met die dood gedreig en gedwing om die nag by hom te slaap. Niemand het haar hulpkrete gehoor nie en sy kon eers die volgende oggend met 'n verskoning dat sy moes gaan werk na die polisie en hospitaal gaan.
Sy het Morris se weergawe dat hulle steeds in 'n verhouding was en sy vrywilliglik saam met hom gestap het ontken.
Hulle was vir dertien jaar in 'n verhouding, maar is in Desember 2019 uitmekaar.
Morris het erken dat hy seks met haar gehad het, maar gesê dat sy daartoe ingestem het. Volgens hom het sy die betrokke aand self besluit om saam met hom na sy blyplek te gaan en was dit sy wat op seks aangedring het. Hy het ook getuig dat dit haar nuwe kêrel was wat haar aangerand het.
Streeklanddros Daniel Boks het Morris se weergawe as vals verwerp.
Volgens die landdros sou die klaer nie beserings opgedoen het indien sy ingestem het nie. Die hof het ook die getuienis van die beskuldigde se ma bevraagteken. Volgens die landdros is dit kommerwekkend dat beskuldigdes hul moeders roep om vir hulle te kom getuig wat dan nie skroom om dit te doen nie. Volgens die landdros het Morris genadeloos opgetree.
Die hof het Morris die maksimum vonnis van vyftien jaar vir verkragting opgelê omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie. Hy is ook vyf jaar vir aanranding opgelê waarvan die helfte samelopend met die vonnis vir verkragting uitgedien kan word wat effektiewe tronkstraf van 17 en 'n half jaar beteken. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Nadia Arnolds het vir die staat en Cindy Murray-Smith van die Regshulpraad vir die beskuldigde verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'