OUDTSHOORN NUUS - Die onafhanklike verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) is besig om statistieke te verwerk om te bepaal hoeveel mense per dorp verlede naweek geregistreer het om in die 2019 nasionale verkiesing te stem.
Die Wes-Kaapse provinsiale verkiesingsbeampte, Courtney Sampson, het Dinsdag gesê: "Dit is wel bekend dat 2,8 miljoen mense landswyd geregistreer het. Ons is nou in die proses om die syfers per streek op te breek."
Sampson het die eerste registrasie naweek as baie suksesvol beskryf.
"Ek is veral opgewonde oor die feit dat 82% van die mense wat registreer het, onder die ouderdom van 29 jaar is. Ons jong mense moet betrokke raak by die verkiesings."
Volgens Sampson moet die staatspresident die verkiesing tussen 6 Mei en 5 Augustus uitroep.
"Ongeveer 22 000 stemlokale sal landswyd ingerig word om die verkiesing vlot te laat verloop."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'