DE RUST NUUS - Die saak teen 'n skoolhoof van 'n primêre skool in die De Rust-distrik, wat van verkragting aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis tot Augustus uitgestel.
Nicholas de Jongh (57), word daarvan aangekla dat hy op 9 Maart 2017 'n 47-jarige vrou van De Rust verkrag het. Hy pleit onskuldig.
Die hof het Maandag die getuienis van 'n vriendin van die klaagster, asook dié van die klaagster se 24-jarige dogter, aangehoor.
Die vriendin het getuig dat die klaagster haar 'n paar weke na die beweerde voorval daarvan vertel het.
Sy het haar meegedeel dat sy die betrokke aand saam met die beskuldigde en nog 'n persoon by 'n nagklub op Oudtshoorn gekuier het.
Hulle het later by die huis van die klaagster verder gekuier. Die klaagster het glo besluit om saam met die beskuldigde huis toe te ry "om hom wakker te hou omdat hy besope was".
Die beskuldigde het toe glo in Meiringspoort stilgehou, met sy gewig op haar geval en seksuele dade met haar gepleeg. Hy het haar glo ook in die gesig en nek gesuig. Die vriendin het onder kruisverhoor getuig dat sy en die klaagster gereeld naweke by mekaar kuier, maar dat die klaagster eers 'n paar weke na die beweerde voorval daaroor gepraat het.
"Sy het aan my gesê dat sy my iets wil vertel. Sy was baie emosioneel en het ook gehuil."
Sy het getuig dat sy nie enige merke aan die klaagster se gesig of nek gesien het nie.
Die klaagster se dogter het getuig dat haar moeder en die twee mans omstreeks 20:00 by hul huis aangekom het en sy later die huis verlaat het.
Haar ma was nie tuis toe sy laataand tuis gekom het nie waarna sy haar gebel het om te hoor waar hulle was. Toe haar ma die volgende oggend by die huis aankom het sy glo "baie ontsteld" gelyk.
"Haar gesigskleur het nie gelyk soos altyd nie," het sy getuig.
Nadat sy eers getuig het dat sy in haar ma se gesig gekyk het, het sy kort daarna erken dat dit 'n leuen was.
Die saak is op versoek van die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, tot 12 Augustus uitgestel omdat hy (die beskuldigde) ongesteld is.
De Jongh se borgtog van R2 000 en borgtogvoorwaardes is verleng.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'