OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n voormalige assistent-superintendent van die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat steeds in diens van die munisipaliteit is, en van bedrog en korrupsie aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor tot volgende jaar uitgestel.
Die staat beweer dat die 52-jarige Frikkie van Staden, wat verantwoordelik was vir onder andere die instandhouding van paaie, na bewering tussen Maart 2011 en Julie 2014 die Oudtshoorn-munisipaliteit onregmatig beïnvloed het om werk aan 'n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading wat aan sy skoonsuster, Francis Booysen, behoort het, te verskaf.
Die munisipaliteit het na bewering verliese van byna R2 miljoen gely. Van Staden pleit onskuldig op al die aanklagte.
Die saak word deur streeklanddros Neels Nortjé aangehoor en is as gevolg van 'n vol hofrol vir die res van die jaar, tot 5 Maart 2019 uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'