OUDTSHOORN NUUS - Verskeie gerugte doen die tans die ronde van beweerde ongeruimdhede by Coronation Memorial, 'n tehuis vir bejaardes in Bridgton.
Inwoners van die dorp, sowel as familie van inwoners van die tehuis, het Leon Campher, stigter van Oudtshoorn Community Against Crime, genader omdat hulle voel hulle nie genoegsame antwoorde by die bestuur of die voorsitter, Xavier Appels, kry nie.
Volgens Campher het hy klagtes ontvang wat onder meer handel oor die kos wat aan die inwoners bedien word, en interdikte deur inwoners van die tehuis wat teen Appels verkry is.
"Van die kos het miet in en party van die kos se vervaldatum het reeds verstryk. Die lewensomstandighede is nie op standaard nie en die hoeveelhede kos wat hulle vir die inwoners inskep is glad nie genoeg om mense vol te maak nie. Soms kry die inwoners net 'n halwe toebroodjie om te eet. Dit is mos nie reg. En hoe kan 'n bestuurder by 'n plek werk waar mense interdikte teen hom het?"
Vergadering
Campher sê hy hou Saterdag 8 Junie om 15:00 'n vergadering by die Nicolania-saal in Impalaweg.
"Die vergadering is oop vir die publiek. Ons wil graag hê dat die huidige raad moet ontbind en dat daar 'n nuwe raad gekies word. Ons het probeer om met die bestuur te gesels, maar hulle is nie bereid om met ons in gesprek te tree nie. Ons nooi egter enigiemand wat belangstel om die vergadering by te woon. Ons wil graag inwoners van die tehuis help en bystaan waar moontlik."
Navrae kan gerig word aan Campher by 082 958 4348 of Frank Abrahams by 081 891 9344.
So sê die raad
Appels het die navraag na sy prokureur, Curwin Lucas, verwys. Lucas het gesê dat die gerugte geen water dra nie, en dat die onus op Campher-hulle berus om bewyse rakende die gerugte te gee.
"Die gerugte op hierdie stadium is nie geverifieër nie. Daar is ook geen interdikte teen die voorsitter nie. Daar is wel 'n hofsaak aan die gang."
Volgens Esther Lewis, woordvoerder van die departement maatskaplike dienste is hulle bewus van die bewerings en gaan hulle ondersoek instel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’