LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie het 'n moorddossier geopen nadat 'n 35-jarige man, Henry Hesqua van Ladismith, met sy lewe geboet het nadat hy op Saterdag 5 Februarie omstreeks 18:00 met 'n mes gesteek is.
Die voorval het in Varkieskloof, 'n informele woongebied in Nissenville, Ladismith plaasgevind.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die oorledene en die verdagte na bewering oor 'n meisie en drank gestry het, wat toe in 'n bakleiery ontaard het.
Die oorledene is tydens die bakleiery in die linkerkant van sy bors gesteek en het op die toneel aan sy wonde beswyk.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagte gearresteer en is daar ook op 'n okapi-mes, wat waarskynlik die moordwapen was, beslag gelê.
Die 28-jarige verdagte sal eersdaags in die Ladismith-landdroshof verskyn.
'Ons bring jou die nuuste Ladismith, Klein Karoo nuus'