Update
OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Phillipus Draai (62), die man wat verlede Donderdag deur twee Amerikaanse veghonde in 'n erf in die weermagkamp verskeur is, sukkel om sy wrede dood te verwerk.
Draai het Donderdag blare in sy suster, Cathleen Dido, se erf gehark toe die twee veghonde hom aangeval het.
Volgens Jimmy Dido, Draai se swaer, behoort die veghonde aan 'n man wat naby hulle woon en het die honde uit hulle erf ontsnap en Draai in die Dido's se erf doodgebyt.
"Phillip het gereeld hier gekom en het sommer die hark opgetel en skoongemaak omdat hy nie net wou sit nie. Gister het hy weer oudergewoonte die grond in die agterplaas gehark. Ek was nie by die huis toe die voorval gebeur het nie, maar my dogter het gebel en gesê ek moet dadelik huis toe kom."
Dido sê 'n vriend het by die erf ingestorm en geskree dat Draai in die huis moet inhardloop want die honde jaag hom.
"Phillip was teen die agterste heining. Die teef het agter oor die heining gespring en die reun het voor by die erf ingestorm en my swaer aangeval. Hy het net so vyf tree gehardloop toe die honde hom van twee kante vaskeer. Hy is verskeie kere gebyt, meestal in sy gesig en nek. Paramedici was vinnig op die toneel en het hard probeer om sy lewe te red, maar kon nie daarin slaag nie."
Hy sê veral sy vrou en kinders is erg getraumatiseer.
"My vrou en kinders het gesien hoe Phillip aangeval word. Hulle en die bure het probeer om die honde van hom af te kry. Hulle het selfs die honde met halwe bakstene en klippe gegooi, maar die honde wou nie los nie. Die eienaar van die honde is gebel en hy het net eenkeer geroep en toe los hulle."
Dido sê alhoewel die honde nog nooit mense gebyt het nie, het hulle al verskeie kere ander inwoners van die weermagkamp se honde doodgebyt en ook verskeie kere mense wat in die straat, of selfs in hul eie erwe was, gejaag.
"My vrou het in die week nog wasgoed opgehang toe die honde weer uitgebreek het. Hulle het die bure se seuntjie in sy eie erf tot by die huis gejaag. Die eienaar van die honde is al deur baie mense gevra om asseblief van die honde ontslae te raak, maar hy het nooit nie."
Die honde is dieselfde aand deur 'n veearts uitgesit.
Die eienaar van die honde, David Malotana, het telefonies aan die Oudtshoorn Courant gesê hy ontken gerugte waar mense beweer dat die honde al ander honde doodgebyt het en mense gejaag het. "Wat gebeur het, was 'n tragedie. Ek weet nie hoe die honde dit reggekry het om uit die kamp waar ek hulle hou te breek nie. Dit was twee jong honde"
Volgens hom was hy in die dorp toe iemand hom oor die aanval gebel het. Ek het dadelik huis toe gejaag en die honde het dadelik gekom toe ek hulle roep."
Een van die honde wat na die aanval op Phillipus Draai uitgesit is.
Salomé Plaatjies, Draai se suster, het hom as 'n liefdevolle mens beskryf.
"Hy het absoluut geleef vir die kinders in ons familie. Hy het gereeld of by my of my suster se huis gekuier en sou sommer met huistakies ook help. Hy was lief vir grappe maak. Ons sal hom altyd onthou vir die vredeliewende en vriendelike mens wat hy was."
Draai se diens begin Saterdag om 10:00 in Du Plessisstraat. Hy word om 11:00 uit die Docks Mission Kerk in Bridgton begrawe.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê daar is 'n geregtelike nadoodse ondersoek (GDO) dossier geopen.
"Daar word nie arrestasies op 'n geregtelike nadoodse ondersoekdossier gemaak nie. Indien die GDO sou bepaal dat iemand die dood nalatig veroorsaak het en 'n persoon verantwoordelik gehou kan word kan daar moontlik 'n klag van strafbare manslag ondersoek word."
Lees 'n vorige artikel: Man deur veghonde verskeur
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'