OUDTSHOORN NUUS - Die Amerikaanse veghond wat verlede Dinsdag die Oudtshoorn munisipale skutmeester, Magda Davel, aangeval het, het die volgende dag nog 'n man gebyt.
Volgens Kees Meyer, wat verlede Woensdag deur die veghond gebyt is, was hy op die stoep van 'n besigheid op die hoek van Voortrekkerweg en Hugenotestraat toe die hond hom gebyt het.
Die eienaar van die hond woon in Hugenotestraat. Volgens Meyer het die hond by hom verbygehardloop, skielik vasgesteek en hom aan die been gebyt.
"Die eienaar was daar toe dit gebeur het en ek het vir hom gesê dat die hond my gebyt het, maar hy het my gevloek en geloop."
Die personeel wat by die onderneming werk het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hulle al telkemale oor die hond gekla het, maar dat die eienaar hom eenvoudig nie daaraan steur nie en ongeskik raak wanneer hulle met hom daaroor praat.
'n Vrou wat ook in die omgewing woon, Nandi de Wet, sê die munisipale wetstoepassers het ook nog niks gedoen om met die eienaar van die hond te praat of om die hond te verwyder nie.
"Daar is twee pit bulls in dieselfde erf. Die swart een het my en my honde al 'n paar keer aangeval as ons daar verby stap. Ek loop nou al met 'n stok. Ek het al mooi gepraat met die eienaar, maar hy steur hom eenvoudig net nie daaraan nie."
Volgens mense in die straat is die veghondteef gereeld op straat.
Die merk aan Kees Meyer se been nadat die hond hom verlede Woensdag aangeval het. Foto's verskaf
Volgens haar is sy en haar honde aan die begin van Januarie deur die veghond aangeval.
"Ek het die wetstoepassers ingelig en daar is vir my gesê dat hulle die hond sal verwyder tot hy die heining waardeur die hond kruip toegemaak het. Dit het egter nie gebeur nie en op 29 Januarie het dit weer gebeur.
"Ek het weer die wetstoepassers geskakel, maar daar het steeds niks gebeur nie. Ek het intussen al foto's en briewe wat by die polisie gesertifiseer is, aan hulle gestuur. Ek het letterlik al foto's geneem terwyl die hond my aanval en dit aan die wetstoepassers gestuur. Volgens een van die beamptes is dit lockdown en moet hulle nou op ander goed fokus. Ek verstaan dit glad nie."
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur, maar dit is nog nie beantwoord nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'