OUDTSHOORN NUUS - 'n Senior aanklaer van die nasionale vervolgingsgesag, ook bekend as die Valke, het in Desember bevind dat daar geen vooruitsig op sukses sal wees indien 13 kriminele klagte teen Allen Paulse vervolg word nie.
Paulse het uit radeloosheid met die situasie in Oktober verlede jaar as munisipale bestuurder van Oudtshoorn bedank. Dit volg nadat 13 kriminele klagte die vorige jaar deur die voormalige burgemeester, Colan Sylvester, en enkele raadslede teen Paulse gelê is.
Sylvester het verlede jaar in Junie bedank nadat die DA hom skuldig bevind het op interne klagtes wat voortgespruit het uit die verbrokkelde verhouding tussen hom en Paulse.
Paulse was verlede week verheug toe hy die amptelike kennisgewing van die Valke ontvang om hom in kennis te stel dat daar geen vervolging sal plaasvind nie.
"Ek is oortuig daarvan dat die hele vendetta teen my veroorsaak is omdat ek twee persone wat in die burgemeester se kantoor aangestel was, in 2018 afgedank het omdat die een 'n kriminele rekord het en die ander een deur die stad, Kaapstad, op grond van growwe oneerlikheid ontslaan is." Oudtshoorn Courant het op 8 Junie 2018 hieroor berig.
In 'n mediaverklaring wat Maandag deur Paulse se kantoor uitgereik is, word die versekering gegee dat die klagte teen Paulse op die hoogste vlak nagegaan is.
"Op 9 Desember 2020, het Adv. William (Billy) Downer SC, adjunkdirekteur van openbare vervolging van die nasionale vervolgingsgesag, 'n e-pos aan die streekhoof van die kommersiële misdaadeenheid in George gerig, met die strekking dat geen kans vir enige suksesvolle vervolging bestaan in die 13 aanklagte teen Allen Paulse nie. Die streekhoof het daarna korrespondensie aan Allen Paulse gerig."
Downer het in 2005, as senior aanklaer by die NVG, die skuldigbevinding van Schabir Shaik verseker en hy lei ook tans as senior aanklaer die vervolging van voormalige president Jacob Zuma.
In reaksie op die nuus dat daar geen vervolging gaan wees nie. het Eleanor Bouw-Spies, LP en die DA se kiesafdelingshoof van Oudtshoorn, gesê dit bewys dat die aanklagte van die DA teen Colan Sylvester grondig was. Die strekking van daardie klagtes was dat Sylvester verantwoordelik was vir die vertrouensbreuk tussen hom en die munisipale bestuurder.
Die vraag wat nou deur verskeie mense gevra word, is wie verantwoordelik is vir die ongeveer R2,3 miljoen wat aan die regsfirma Webber Wentzel betaal is om 'n verslag op te stel op grond van klagtes wat Sylvester teen Paulse gelê het.
Die Webber Wentzel-verslag het verlede jaar wye reaksie uitgelok omdat dit as 'n "forensiese verslag" voorgehou is. In die verslag word dit egter duidelik gestel dat dit opgestel is sonder om met Paulse te praat. Dit was dus nie 'n forensiese verslag nie.
Wat ook nou aan die lig gekom het met die reaksie van die Valke is dat die Webber Wentzel-verslag ook een van die aanklagte was wat nou deur die Valke van die hand gewys is.
Dit was die dertiende klag wat teen Paulse gelê is. Paulse sê dit is vir hom interessant dat die ander 12 klagte in Mei, Junie en November 2019 gelê is, maar die een wat die Webber Wentzel-verslag bevat, is in Junie 2020 gelê, dieselfde tyd dat Sylvester uit sy pos as burgemeester bedank het.
Tydens Paulse se termyn as munisipale bestuurder tussen 2016 tot 2020 het Oudtshoorn daarin geslaag om 'n skuldlas van R53 miljoen aan Eskom te betaal en meer as R90 miljoen wat deur krediteure verskuldig was, is deur die munisipaliteit verhaal.
Paulse is tans in diens van George-munisipaliteit in die pos van direkteur van gemeenskapsdienste.
Sy volledige mediaverklaring is hier beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'