KANNALAND NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, in samewerking met Kannaland-munisipaliteit, het op Maandag 7 November 'n vaardigheidsindaba by die Ladismith-stadsaal gehou.
Verskeie instansies, tradisionele leiers en verteenwoordigers van besighede was ook teenwoordig.
Die vaardigheidskoördineerder, Florus Prinsloo, het in sy toespraak genoem dat voornemende entrepreneurs moet toesien dat hulle op die databasis van die munisipaliteit geregistreer is.
Die toerisme- en -gasvryheidsbedryf kan 400 persone oplei en hulle dan by verskeie instansies in die Suid-Kaap plaas.
Melanie Andries van Suid-Kaap Kollege het kursusgangers ingelig van die kursusse wat deur die verskeie kampusse van Suid-Kaap Kollege aangebied word. Monique Barends, ook van Suid-Kollege, het die beursgeleenthede vir studente verduidelik.
Celeste Domingo van die munisipaliteit het genoem dat hulle reeds die behoefte aan opleiding in Kannaland geïdentifiseer het.
'n Baie optimistiese Basil Myners van BM Skills Development, 'n maatskappy wat spesialiseer in verskaffing en opleiding van sekuriteitsdienste, het onderneem om ten minste twee toegewyde persone uit Kannaland gratis opleiding in sekuriteitswerk te gee.
Daar is onderneem om verhoudinge met besighede uit te brei en dalk ook die nodige fondse vir opleiding in verskillende gebiede te bekom.
Domingo was na die afloop van die indaba baie positief dat die munisipaliteit sal inkoop by hierdie vaardigheidsont-wikkelingsprogram.
Celeste Domingo van Kannaland-munisipaliteit aan die woord.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'