UNIONDALE NUUS - Twee veediewe is op 16 Julie deur die Uniondale-polisie se landelike veiligheidslede gearresteer vir die besit van gesteelde eiendom.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was dié veiligheidslede besig om die area te patrolleer toe hulle in kennis gestel is dat twee verdagtes besig is om 'n Angorabok in die veld te slag.
Dié twee is toe deur die lede ondervra en gearresteer vir die besit van gesteelde eiendom.
Spies sê ook dat speurders van die Oudtshoorn-veediefstal en bedreigde spesie-eenheid besig is met 'n voorlopige ondersoek omdat die dier gekoppel word aan 'n veediefstal wat vroeër op 'n nabygeleë plaas plaasgevind het.
Die verdagtes, 23 en 49 jaar oud, bly in aanhouding totdat hulle Maandag 18 Julie in die Uniondale-landdroshof verskyn vir die besit van gesteelde eiendom en veediefstal.
'Ons bring jou die nuutste Uniondale, Klein Karoo nuus'