OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn United Congregational Church (UCC) het onlangs hul 185ste bestaansjaar gevier.
Dial Swarts, sekretaris van Oudtshoorn UCC, vertel dat die feesvieringe al die vorige week 3 Maart met die verkiesing van Mnr. en Mej. Oudtshoorn UCC begin het.
Tydens dié geleentheid is Bjorn Kammies en Shawnna Campher onderskeidelik as Mnr en Mej. Oudtshoorn UCC verkies. 'n Voorbereidingsbiduur het op 8 Maart plaasgevind om die seën te vra vir die naweek.
'n Potjiekosaand is op 10 Maart gehou en Swarts vertel dat daar ongeveer 200 mense bedien is. 'n Optog van Aurial College is Saterdag 11 Maart gehou, en het Struisies se trompoppies die sierwa met Mnr. en Mej. Oudtshoorn UCC begelei, terwyl die Oudtshoorn UCC-brigade gespeel het.
Eerw. Bennet Draai van die Henry J Blazy UCC het die feesvieringe amptelik geopen. Volgens Swarts was daar vir oud en jonk vermaak en oorgenoeg om aan te smul terwyl DJ Estine Arends musiek gemaak het.
Swarts vertel dat Oudtshoorn UCC se tema vir die jaar 'Verander ons denke Here, dat ons een in U mag wees" is, en het die preek deur Draai ook daaroor gehandel. Die gemeentelede het saam 'n heerlike middagete na die diens geniet waarna 'n konferensiediens gehou is. Tydens die konferensiediens is boodskappe van ander denominasies en UCC-gemeentes oorgedra.
Swarts sê dat Oudtshoorn UCC dankbaar is vir 185 jaar van genade. "Die gemeente is al deur baie leraars bedien. Eerw. Johannes Muggels is die huidige leraar sedert 2001. Die leraarspaar, bestuur, kerkraad en breë gemeente spreek graag hulle dankbaarheid uit oor die sukses van die afgelope naweek," sê Swarts.
Geskiedenis van die Oudtshoorn UCC
Met die aankoms van John Melville in 1838 het hy die kerklike versorging van die bruin bevolking deur die Londense Sendinggenootskap begin. In Maart 1848 word BE Anderson (Bartholomew Ebenezer) as sendeling georden.
Teen Maart 1849 is daar met 'n kerk in Oudtshoorn begin. Die Kerk het toe as die Independente kerk bekendgestaan. Die pragtige gebou op die hoek van Queen- (nou Baron van Reedestraat) en St. Johnsstraat moes in 1972 teen 'n bedrag van R4 000 verkoop word. Die rede hiervoor was as gevolg van die Groepsgebiedewet. Die gemeente het toe na Impalaweg verhuis om daar te aanbid. Op 17 Junie 1972 word die kerkgebou aldaar ingehuldig.
Die Independente kerk was die eerste gemeente wat 'n plek van aanbidding in Oudtshoorn opgerig het.
Op 3 Oktober 1967 word die United Congregational Church of South Africa gestig en verander die naam van die kerk vanaf Oudtshoorn Independente kerk na die huidige Oudtshoorn United Congregational kerk (Oudtshoorn UCC).
Die huidige gebou in Jonesstraat is in 1998 voltooi en in 2008 ingewy.
Die feesdiens het Sondag 12 Maart plaasgevind en het Buffelskloof-buitepos se koor ook kans gekry om te sing. Foto verskaf
Van links is Vetonia Campher (1ste prinses), Shawnna Campher (Mej. Oudtshoorn UCC), Bjorn Kammies (Mnr. Oudtshoorn UCC) en Natecha Campher. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’