OUDTSHOORN NUUS - Die onenigheid tussen Oudtshoorn se vorige burgemeester, Colan Sylvester, en die vorige munisipale bestuurder Allen Paulse, kos soos meeste geskille in plaaslike owerhede, die belastingbetaler 'n paar miljoen rand.
Terwyl Paulse en Sylvester reeds verlede jaar uit hul poste bedank het en intussen met hulle afsonderlike lewens voortgaan, is die koste wat deur die geskil veroorsaak is nog nie heeltemal bereken nie, maar dat dit uit die sak van belastingbetalers kom, is seker.
Die jongste herrie oor die kwessie waaroor daar gereeld berig was, het verlede week opnuut losgebars toe dele van die ouditeur-generaal (OG) se verslag op sosiale media beland het.
Net soos wat die Webber Wenzel-verslag met eensydige bevindinge oor Paulse verlede jaar deur Sylvester se ondersteuners op sosiale media versprei is, word die bevindinge van die OG waarskynlik deur mense wat Paulse goedgesind is, versprei.
Sylvester en 'n groepie raadslede het verlede jaar 'n hele aantal kriminele klagtes teen Paulse probeer lê. Die klagtes is in Desember deur die Valke van die hand gewys. Die dele van die OG se verslag, wat verlede week versprei is, dui aan dat die OG se aanstelling van die regsfirma, Webber Wenzel, om klagtes teen Paulse te ondersoek, onreëlmatig was en dat die uitgawe van meer as R2,4 miljoen ook onreëlmatig was.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, het verlede week heftig gereageer teen die bekendmaking van dele van die OG se verslag voordat dit nog voor die raad gedien het.
In reaksie op 'n navraag oor die kwessie het Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, gesê die verslag wat ontvang is, is deel van die ouditeur-generaal se jaarlikse verslag wat volg op sy oudit van die munisipaliteit.
Deel van die verslag is 'n skrywe aan die munisipale bestuur waarin besonderhede van al die bevindinge van die OG gegee word.
Die munisipale bestuur moet hierop reageer en dit aan die OG voorlê waarna die OG 'n finale besluit neem. Volgens Mangqwengqwe is dele van hierdie skrywe, wat slegs intern hanteer word, ook op sosiale media versprei.
"This management letter is an in-house document/tool that must be treated confidentially. The main reason being that it contains private information of employees and service providers that need to be protected. A part of the Management Letter appeared on social media."
Volgens Mangqwengqwe is die dokumente verlede Maandag, 1 Maart, ontvang en word as deel van die jaarlikse verslag aan die einde van die maand voor die raad gelê. Dele daarvan is egter binne twee dae op sosiale media bekendgemaak.
Die normale verloop van die proses is dat die raad die jaarlikse verslag na die oorsigkomitee verwys en dat publieke insette gelewer word. Die jaarlikse verslag word dan saam met die oorsigverslag teen die einde van Mei weer voor die raad gelê. As gevolg van Covid-19 word die proses egter met twee maande vertraag.
Volgens Mangqwengqwe is die kwessie met die burgemeester bespreek en die waarnemende munisipale bestuurder het opdrag aan 'n plaaslike prokureur gegee om die omstandighede waarvolgens die dokumente openbaar gemaak is, te ondersoek.
Intussen word vrae uit verskillende oorde gevra oor die proses waarvolgens Webber Wenzel aangestel is en wie verantwoordelik gehou moet word vir die uitgawe van miljoene rande.
Behalwe vir hierdie uitgawe het die maande lange geskil tussen die voormalige burgemeester en voormalige munisipale bestuurder ook ander koste-implikasies vir die belastingbetaler.
Tydens die ondersoeke wat gehou is, is amptenare op onbepaalde verlof geplaas en iemand moes in hulle plekke waarneem.
Senior en bekwame amptenare het ook as direkte gevolg van die tweespalt bedank omdat hulle eenvoudig nie kans gesien het om onder sulke omstandighede te werk nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'