OUDTSHOORN NUUS - Om 80 jaar oud te word is 'n reusevoorreg, maar om 80 jaar oud te word, én dit saam met jou tweelingsuster te kan vier is nog 'n groter voorreg. Dit is presies wat Cornelia (Connie) Saayman en Sarah Goliath die afgelope naweek gedoen het.
Hulle is behoorlik bederf, en benewens die groot koeke het hulle elkeen ook 'n spesiale sleutel saam met 'n bederfpakkie gekry.
Die identiese tweeling is in 1944 in Oudtshoorn gebore en woon dus hul lewe lank hier. Volgens Sarah het hulle en hul gesin eers in Wesbank gewoon.
"Ons woon vir die afgelope 73 jaar in dieselfde huis in Nerinalaan, Bridgton en dit is ook waar ons ons kinders groot gemaak het. Ons was sewe jaar oud toe ons hier ingetrek het," vertel sy trots.
Connie en Sarah was twee van nege kinders. Ses van hulle is reeds oorlede en hul jongste suster, Sabiena Wagenaar, woon in Vredenburg.
Sarah is die "oudste" van die twee.
"Ons was nie stout kinders nie en ons het ook nie probeer om mense deurmekaar te maak nie, maar soms het ons ouers nogal deurmekaar geraak met ons twee."
Volgens haar was die langste wat hulle uitmekaar was die tyd toe Connie in die Kaap gewerk het, maar dit was van korte duur omdat Sarah kort daarna ook Kaap toe is. Hulle het egter weer hulle pad terug na Oudtshoorn gevind, waar Sarah op 16 Augustus 1969 met Phillip Goliath getroud is. Haar man het haar op die ouderdom van 36 ontval.
Van links is Fernando Saayman, Shirley de Klerk, Cornelia Saayman, Sarah Goliath, Elize Goliath en Zelda Weber. Foto's: Liezl van Niekerk
Haar dogter, Elize Goliath, vertel dat sy net vier jaar oud was toe haar pa oorlede is. "Hy is reeds 44 jaar dood. Hy en my ma was maar net 10 jaar getroud. Hy het bloeding op die brein gehad en was net 'n week in die hospitaal in die Kaap toe hy oorlede is. Dit is hartseer om te dink dat ons sonder 'n pa moes groot word. Hy het al die belangrike oomblikke in ons lewe gemis, maar my ma het haar bes gedoen om ons groot te maak."
Sarah het drie kinders, Elize Goliath en Zelda Weber, haar twee dogters en haar seun, Johannes Lucas. Hy was haar oudste seun en is op die ouderdom van 50 aan kanker oorlede. Sy het ook sewe kleinkinders en 10 agterkleinkinders
Connie het nooit getrou nie en het ook drie kinders, Fernando Saayman, Duncan Saayman en Shirley de Klerk en ses kleinkinders en drie agterkleinkinders. Cornelia het ook 'n dogtertjie, Blanch Mars, vandat sy nege maande oud is groot gemaak.
Die tweeling se kinders is dit eens dat Sarah die streng een tussen die twee susters is.
"Ons is nog steeds versigtig vir my ma," het Elize vertel.
Die tweeling sê hulle sien daarna uit om nog baie verjaarsdae saam te vier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’