KAROO NUUS - Pogings om veediefstal in en om Beaufort-Wes hok te slaan, is die afgelope naweek voortgesit met gesamentlike operasies tussen die Beaufort-Wes-veediefstaleenheid, die bedreigde spesies-afdeling, die Sentraal Karoo-K9-eenheid en lede van die blitspatrollie.
Die operasies het verseker dat twee verdagtes hulself agter tralies bevind nadat karkasse en vee in hul besit gevind is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die span Vrydag 27 Oktober gereageer op inligting van moontlike veediefstal by 'n plaas naby die N1 toe hulle 'n man met vyf skape gevind het.
"Hy is in hegtenis geneem op aanklag van veediefstal. Die volgende dag het die span patrollies langs die N1 gedoen toe hulle 'n voertuig opgemerk het wat verdag lyk. Die voertuig, 'n Toyota Corolla, is deursoek en vyf karkasse is in die voertuig gevind. Die polisie het beslag gelê op die karkasse en die bestuurder op aanklag van die besit van gesteelde eiendom in hegtenis geneem. Ondersoek het die polisie na 'n nabygeleë plaas geneem waar die vee vroeër gesteel is."
Spies sê die verdagtes van 25 en 48 jaar oud bly in polisie-aanhouding en sal na verwagting Maandag 30 Oktober in die Beaufort-Wes-landdroshof verskyn op aanklag van veediefstal.
Karkasse van vee wat gevind is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’