KLAARSTROOM NUUS - Drie voetgangers, van Klaarstroom buite Prins Albert, is vroeg Sondagoggend, 14 Januarie, deur 'n voertuig getref waarna twee mans oorlede is en een met beserings hospitaal toe geneem is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die Prins Albert-polisie 'n saak van strafbare manslag geopen. Die voorval het omstreeks 02:10 die oggend op die R407 plaasgevind.
"Verslae beskikbaar dui daarop dat die polisie besig was met patrollies in die omgewing toe hulle op die toneel afgekom het waar drie voetgangers ernstige beserings opgedoen het. Die beamptes het ook twee voertuie, 'n Toyota Quantum en Toyota Corolla op die toneel gevind," het hy bygevoeg.
Volgens Spies is twee van die slagoffers, 26 en 34 jaar oud, deur paramedici op die toneel dood verklaar. Hy het bygevoeg dat 'n 22-jarige man hospitaal toe geneem is vir behandeling.
"Die omstandighede rondom die insident word ondersoek," het Spies gesê.
Slagoffers
Juwayne Arries (26) en Newton Katzen (34) is die twee mans wat oorlede is. Hulle was volgens Arries se niggie, Kayla Arries, vroeër die dag by 'n sokkerwedstryd. Sy het gesê sy weet nie hoekom hulle so laat nog gestap het nie.
"Hy was 'n sportman en het vir Young Stars gespeel. Ons het mekaar nog op die veld gesien. Ek weet glad nie wat gebeur het nie. Die familie wag ook nog om uit te vind," het sy gesê.
Volgens Arries was haar neef, ook die pa van 'n sesjarige dogtertjie, 'n lieflike mens wat baie om hom se harte geraak het.
"'n Mens kan dit net sien as jy na al die boodskappe en 'posts' op Facebook kyk," het sy bygevoeg.
'n Vriend van beide Arries (Juwayne) en Katzen kon nie genoeg uitgepraat raak oor watse goeie mense hulle was nie. "Ek het grootgeword in Klaarstroom. Juwayne was altyd maar een van die besigste en die graperigste vriende tussen ons jongspan. Hy was vir my nie een wat moeilikheid gemaak het nie. Hy was die persoon wat ander in enige situasie kon help.
"Ek kan onthou op laerskool moes hy my help om 'n Engelse boek te lees, want ek was nie goed met lees nie. Hy het my gehelp en ook geïnspireer om vandag goed te lees. Hy het net so baie van sport gehou; krieket, skaak, sokker en ook rugby," het die vriend gesê.
Volgens hom was Arries en Katzen altyd saam. "Ek ken Newton van Witrivier se dae waar hy grootgeword het. Hy en sy familie was baie betrokke by sokker en die Young Stars-klub. Op skool het hy reeds mense se harte begin steel met sy kragtige talent.
Newton Katzen, een van die slagoffers.
"Hy het jong kinders van Klaarstroom saam met sy pa aangemoedig om betrokke te raak by sport en daarby het mense van Klaarstroom die omgee in Newton se hart om met jong kinders die pad te stap gesien, en vandag kan ek as persoon sê ek is trots op hierdie jong manne se prestasies. Beide het goeie persoonlike eienskappe gehad. Hulle het nooit iemand leed aangedoen nie," het hy bygevoeg.
Linda Jaquet, burgemeester van die Prins Albert-munisipaliteit, het gesê Klaarstroom is 'n klein dorpie en almal word deur hierdie tragedie getref.
"Ons hou Donderdagoggend, saam met die families, 'n kransleggingseremonie naby die ongelukstoneel," het sy gesê.
Sy het vroeër in 'n verklaring gesê dat haar hart uitgaan na die families van Juwayne Arries en Newton Katzen van Klaarstroom wat baie tragies gesterf het.
"Ek bid ook vir Bruwon Arries (22) wat in Oudtshoorn-hospitaal opgeneem is," het sy bygevoeg.
Bruwon Arries is tans in die Oudtshoorn-hospitaal.
Volgens Jaquet was beide oorledenes jong manne met drome en 'n belowende toekoms voor hulle. "Die hele Klaarstroom sal diep getref word deur hul onverwagse dood. Ek vertrou dat Bruwon spoedig sal herstel."
'n Roudiens vir Arries en Katzen sal Donderdag om 19:00 in die Klaarstroom-gemeenskapsaal gehou word en hul begrafnisse sal Saterdag plaasvind.
Vorige artikels:
Twee dood, een in hospitaal na voertuig voetgangers tref
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’