KANNALAND NUUS - Twee moorde op Oukersdag, 24 Desember, het skokgolwe deur Kannaland gestuur. Beide moorde het binne 'n bestek van een uur van mekaar plaasgevind.
'n 37-jarige Buitelander bekend as Ashwin, het in sy informele winkel (Sakkiesbaai-kafee) in Roco Ferusstraat aan veelvuldige steekwonde in Ladismith beswyk. Die tweede voorval het in van Van Wyksdorp plaasgevind waar 'n vrou in hegtenis geneem is na 'n beweerde mesaanval op 'n man.
Luidens 'n verklaring van sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek Ladismith-speurders twee onverwante moorddossiere ná voorvalle wat op Sondag, 24 Desember aangemeld is.
"In die eerste voorval het die polisie omstreeks 20:15 gereageer op 'n messteekvoorval by Rocoferusstraat in Ladismith. Met hul aankoms het hulle 'n 37-jarige man met bloed op sy bors gevind. Hy is hospitaal toe vervoer en met sy aankoms dood verklaar. 'n 42-jarige man is op 'n aanklag van moord in hegtenis geneem," lui die verklaring.
Spies het ook bevestig dat 'n 43-jarige vrou in 'n tweede voorval in hegtenis geneem na die dood van 'n 51-jarige man wat omstreeks 21:15 in Van Wyksdorp plaasgevind het.
"Daar word beweer dat die egpaar 'n argument gehad het waarna die slagoffer met 'n mes gesteek is. Hy het verskeie steekwonde aan die nek, gesig en kop opgedoen. Die slagoffer is later deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Albei verdagtes bly in polisie-aanhouding. Hulle sal op Woensdag, 27 Desember (vandag) in die Ladismith-landdroshof verskyn. Lykskouings om die oorsake van dood te bepaal, sal later vandeesweek gedoen word. Die ondersoek in beide misdade duur voort,"het Spies gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’