OUDTSHOORN NUUS - Elmarie Rabie, 'n vroueboer van Oudtshoorn, het verlede week aan die BKB Afrika-lewendehawe-ekspo en skou by Afridome in Parys deelgeneem waar sy uitstekend met haar Chianina-beeste gevaar het.
Rabie sê die Chianina-bees is een van die oudste beesrasse ter wêreld en dateer terug tot honderde jare voor Christus.
"Hulle is hoog op die been en stap gemaklik by enige bergagtige dele uit. Hulle kan uiterste weerstoestande hanteer en het swart pigmentasie met 'n wit huid," verduidelik sy.
Rabie sê sy is ongelooflik trots op die feit dat sy twee kampioene van die skou af kon terugbring.
Gladiator, Rabie se stoetbul wat reeds agt jaar by haar is en vir kruisteling gebruik was en nou vir suiwerteling gebruik word, het eerste by die Chianina Suider-Afrika kampioenskappe gekom.
"Hy is aangewys as die senior kampioenbul asook die nasionale reserwe kampioenbul," het sy trots gesê.
Gioletta, Rabie se Chianina-koei, is aangewys as die junior kampioenkoei in die een tot twee jaar katogorie.
"Dit is 'n besondere eer om die toekennings te kon ontvang veral as mens in ag neem dat daar 200 deelnemers van oor die land was met meer as 20 verskillende beesrasse en meer as 700 beeste wat deelgeneem het."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'