OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Dysselsdorp, wat aangekla is van roof met verswarende omstandighede, maar aan diefstal skuldig bevind is, is Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof 'n vonnis van twee jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy skuldig gepleit het.
Heinrich Botha (23) het erken dat hy op 7 Oktober 2021 'n 2 liter Coke en 'n jogurt van 'n buitelandse winkeleienaar gesteel het.
Botha het in 'n pleitverduideliking erken dat hy die betrokke dag in die Corner Shop van Teka Zeleka, 'n Ethiopiër, in Koeriesweg, Dysselsdorp was.
Hy het die koeldrank en jogurt uit die yskas gehaal en uitgestap sonder om daarvoor te betaal.
Toe die eienaar na hom roep het hy weggehardloop.
Volgens hom het hy die Coke vir R20 aan 'n onbekende persoon verkoop en die jogurt self geëet.
Sy regsverteenwoordiger, Brian Carelse, het die hof versoek om in ag te neem dat hy skuldig gepleit het en 'n vonnis op te lê wat samelopend uitgedien kan word met die vonnis van ses jaar wat hy in Maart 2022 opgelê is. Hy het van die begin af skuldig gepleit wat as 'n mate van berou gesien kan word.
Die staatsaanklaer, Mervin Saaiman, het betoog dat vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking op Botha gehad het nie, en direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees. Hy het al van 'n jong ouderdom misdaad begin pleeg en is verskeie ligte vonnisse opgelê totdat dit verlede jaar gelei het tot 'n vonnis van ses jaar.
Streeklanddros Kenneth Peters het met vonnisoplegging gesê die howe kan nie toelaat dat Suid-Afrikaners buitelanders as sagte teikens sien en aanval nie. Al is die waarde van die gesteelde items gering, moet die beskuldigde se vorige veroordelings vir vonnis in ag geneem word.
Die hof het gelas dat een jaar van die vonnis samelopend met die vonnis van ses jaar uitgedien kan word en Botha is ook onbevoeg bevind om vir 'n vuurwapenlisensie aansoek te doen of 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’