KAROO NUUS - Twee insittendes van 'n Haval Jolion het ernstige beserings opgedoen na die voertuig waarmee hulle gery het Saterdag met 'n ligte vragmotor gebots het. Die ongeluk het om 13:30 naby Sakkiesbaai tussen Ladismith en Calitzdorp plaasgevind.
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant op die toneel het 'n blou Haval Jolion dwars in die pad gestaan en die ligte vragmotor met sy neus in 'n bos.
Na bewering was die Haval van Calitzdorp in die rigting van Ladismith onderweg. Die impak van die botsing het egter die motor weer in die teenoorgestelde rigting laat swaai. Die voorkant van die Haval was heeltemal opgefrommel, alhoewel die kajuit ongeskonde was. Onbevestigde gerugte wou dit hê dat die wit vragmotor probleme met sy stuurmeganisme ondervind het en die Haval reg van voor getref het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het twee insittendes van die Haval ernstige beserings opgedoen en is hulle vir noodsaaklike mediese sorg per ambulans na die plaaslike Alan Blyth-hospitaal geneem.
Die Haval wat van 'n Calitzdorpse rigting op pad was. Foto's: Deon Meyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’