KLAARSTROOM NUUS - Drie mans van Klaarstroom is in die vroeë oggendure van Sondag 14 Januarie op die R407 tussen Prins Albert en Klaarstroom vermoedelik deur 'n voertuig getref. Twee van die mans is op die toneel dood en een is na die hospitaal geneem.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die Prins Albert-polisie 'n saak van strafbare manslag geopen.
Spies het gesê dat die voorval omstreeks 02:10 die oggend plaasgevind het.
"Verslae beskikbaar dui daarop dat die polisie besig was met patrollies in die omgewing toe hulle op die toneel afgekom het waar drie voetgangers ernstige beserings opgedoen het. Die beamptes het ook twee voertuie, 'n Toyota Quantum en Toyota Corolla op die toneel gevind het," het hy bygevoeg.
Volgens Spies is twee van die slagoffers, 26 en 34 jaar oud, deur paramedici op die toneel dood verklaar. Hy het bygevoeg dat 'n 22-jarige man hospitaal toe geneem is vir behandeling.
"Die omstandighede rondom die insident word ondersoek," het Spies gesê.
Lees meer in vandeesweek se uitgawe van Oudtshoorn Courant.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’