OUDTSHOORN NUUS - Die brandweer moes Maandag bontstaan om twee brande wat ongeveer twee ure na mekaar uitgebreek het, te blus.
Die eerste brand het Maandagoggend omstreeks 10:00 op 'n erf in Rosebank uitgebreek toe 'n opslaanhut teen 'n huis aan die brand geslaan het. Die hut het heeltemal afgebrand, maar die brandweer kon die brand blus voordat die huis ook in puin gelê is.
Mark Solomons was in die woonhuis toe die brand uitgebreek het en iemand hom geroep het om te sê die houtstruktuur brand. Niemand is beseer nie. 'n Deel van die huis het brandskade opgedoen aangesien die opslaanhut met 'n deur aan die huis verbind was.
Skaars twee ure later moes die brandweer na Jan McKaystraat in Bridgton jaag waar nog 'n opslaanhuis in 'n agtererf aan die brand geslaan het. Die eienaar van die woonhuis voor in die erf, Julien Witbooi, sê die bure het alarm gemaak terwyl hy in die huis was.
"Die brand was toe al so erg dat ons net een stoel kon red en ons het toe begin om al die meubels uit my huis uit te dra voor hy ook vlamvat."
Die brandweer kon verhoed dat Witbooi se huis aan die brand raak, maar 'n houtheining tussen sy erf en die bure het aan die brand geslaan en 'n houthuis op die buurerf aan die brand gesteek. Groot skade is aan een van die kamers aangerig.
Die oorblyfsels van die houthuis in Rosebank met die beskadigde aangrensende woonhuis. Foto: Wyndham Ewerts
Terwyl die brandweer hulle tenk moes gaan hervul het mense op die twee erwe met tuinslange gesorg dat die brand nie weer opvlam nie. Volgens 'n persoon wat gemeenskapwerk in die woonbuurte doen, was daar nog drie ander brande waartydens gesinne groot skade gelei het.
'n Lid van die brandweer het gesê mense moet uiters versigtig wees aangesien temperature besig is om te styg en dit uiters droog is. "Veld-brande en brande in riete is 'n ernstige probleem as dit so droog en warm is."
'n Inwoner van Jan McKaystraat blus vlamme wat opslaan terwyl die brandweerwa se tenk hervul word. Foto: Hannes Visser.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'