OUDTSHOORN NUUS - Tuwan van Rooyen, matriekleerder van Hoërskool Môrester, is onlangs in Kaapstad by die V&A Waterfront as een van die Nedbank-beurswenners aangewys. Hy moes 'n opstel oor die onderwerp 'radikale ekonomiese transformasie' skryf en was een van 26 kandidate uit honderde wat in die finale ronde deelgeneem het.
Sy voorlegging wat hy voor ' n paneel van deskundiges aangebied het, was uiteindelik as die beste van al die deelnemers gekeur.
As deel van Tuwan se prys het hy 'n ten volle betaalde studiebeurs gewen wat hom in staat stel om by enige tersiêre inrigting in Suid-Afrika te gaan studeer.
'n Opgewonde Tuwan het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy planne het om volgende jaar by die Universiteit van Stellenbosch te studeer (B.Rek) omdat hy homself eendag graag as 'n rekenmeester wil bekwaam.
"Dit voel vir my nog so onwerklik omdat ek en my ouers nog onlangs kopgekrap het oor hoe ek vir my tersiêre studies volgende jaar sou betaal het. Hierdie beurs is voorwaar soos manna uit die hemel, het Tuwan gesê.
Sy ekonomie onderwyser, Brandon Claassen, is ook beloon vir die bydrae wat hy gelewer het tot Tuwan se sukses.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'