OUDTSHOORN NUUS - Die ACVV Tuishuis in Baron Van Reedestraat, wat vanjaar 40 jaar oud is, het die geleentheid Vrydag stil gevier.
Weens die grendeltyd het die spogtee wat beplan was, nie plaasvind nie.
Die hoeksteen van Tuishuis is op 9 Maart 1979 gelê en 120 ouer persone kon op 1 Maart 1980 intrek. Twee maande later kon die eerste 23 pasiënte in die siekeboeg gehuisves word. Die amptelike opening van Tuishuis het op 25 Julie 1980 plaasgevind en is waargeneem deur die Premiersvrou van die Wes-Kaap en beskermingsvrou van die ACVV, Kaapland, me. Elize Botha.
Die naam is as deel van 'n kompetisie deur ds. Janlu Kuyler voorgestel. Die hoofgebou van sandsteen was teen die einde van die 1890's gebou om die Oudtshoorn Men's Club te huisves.
Dit is vanaf 1910 as privaat biblioteek ingerig wat later deur die provinsiale biblioteekdiens oorgeneem is.
Dit was die dorp se biblioteek tot 1972 toe die huideige biblioteek in Voortrekkerweg gebou is.
Vandag bied Tuishuis bekostigbare huisvesting aan 71 ouer persone wat nog selfversorgend is en in ondersteunende versorgingswoonstelle woon en 22 verswakte inwoners wat in die siekeboeg versorg word.
Die huidige voorsitter van Tuishuis se beheerraad is Cilliers Vosloo en die hoof is Irma Olivier.
Die inwoners en beheerraad van Tuishuis hou gereeld teetuine, modeparades, teegeleenthede en verskeie verkopings om geld in te samel. Die tehuis steun ook tot 'n groot mate op die hulp en ondersteuning van vrywilligers.
Die personeel van Tuishuis saam met die bestuurder, Irma Olivier (heel regs in die tweede ry) en suster Magdalena Uren afdelingshoof van die siekeboeg (voor, derde van regs). Foto: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'