OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn wat aan voertuigdiefstal skuldig bevind is in die streekhof drie jaar gevangenisstraf opgelê.
Oelof Abraham Viviers (44) het onskuldig gepleit op die klagte dat hy op 5 Junie 2016 'n Colt bakkie van sy werkgewer, Daniel Redelinghuys, gesteel het.
Viviers het aangevoer dat hy vrye toegang tot Redelinghuys se voertuie gehad het.
Streeklanddros Neels Cronje het egter bevind dat hy die bakkie onregmatig geneem het. Hy het die eienaar laat weet dat hy die voertuig op die parkeerarea van die George-hospitaal gelos het omdat hy dringend vir hospitaalbehandeling na Kaapstad moes gaan.
Die voertuig is egter nie daar gevind nie.
Viviers is tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis asook 'n verdere twee jaar wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer aan voertuigdiefstal of poging tot diefstal skuldig bevind word nie.
Hy het drie vorige veroordelings.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'