OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bongolethu op Oudtshoorn wat byna al die vensters van sy buurman se huis stukkend gegooi en hom ook aangerand het, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind op aanklagte van huisbraak, aanranding om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging.
Die 30-jarige Sibosiso Madumane het ontken dat hy die deur van Thobile Nombande, oopgeskop het toe hy glo gaan soek het vir klere wat uit sy huis verdwyn het.
Nombande het daarin geslaag om uit die huis te kom en is na die Bongolethu-polisiestasie om 'n klagte te gaan lê.
Intussen het Madumane die huis se vensters stukkend gegooi en ook kaste beskadig.
Hy het die klaer later die oggend, omstreeks 03:00, langs die pad gekry en hom, met die polisie in die nabyheid, met die vuiste geslaan, geskop en getrap en hom ook met 'n besemstok geslaan wat daartoe gelei het dat Nombande vandag twee van sy vingers nie kan buig nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Madumane nie enige berou toon nie.
Hy het na byna nege maande ook nie 'n poging aangewend om die skade aan sy buurman se huis te herstel alhoewel hy dit met die aanvang van die verhoor belowe het nie.
Hy het die wet in sy eie hande geneem en 'n bejaarde man in die veiligheid van sy huis aangerand. Hy het selfs aan die polisie gesê dat hy Nombande wil doodmaak
Madumane se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof versoek om in ag te neem dat hy 'n eerste oortreder is en hy en die klaer vir jare goeie bure was. Verswarend egter is die feit dat die aanval in die middernagtelike ure plaasgevind het.
Streeklanddros, Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê Madumane se optrede is om die minste te sê skokkend en onaanvaarbaar. Dit was 'n vernedering vir die klaer.
Sy het Madumane drie jaar tronkstraf opgelê vir huisbraak, 'n boete van R20 000 of tien maande gevangenisstraf vir aanranding met die opset om ernstig te beseer waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is, en 'n verdere R10 000 of vyf maande gevangenisstraf vir kwaadwillige saakbeskadiging.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'