Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee Duitse toeriste in 'n Toyota Avanza en die bestuurder van 'n Mercedes Vito-bussie is ongedeerd na 'n botsing op die Calitzdorppad Dinsdagmiddag. Die twee toeriste was agterin 'n ry motors wat by padwerke stilgestaan het toe die Mercedes hulle van agter getref het.
Die slag van die botsing het die Avanza van die pad af geslinger en laat omdop. Omstanders het die voertuig weer op sy wiele gekry en die geskokte insittendes bygestaan.
Die passasier is 'n parapleeg en kon nie uit die motor klim nie. Sy vrou het bestuur. Volgens die bestuurder van die Vito het hy nie besef die motors voor hom staan stil nie. 'n Egpaar wat in 'n Fortuner voor die Avanza was het die toeriste bygestaan totdat paramedici by die toneel aangekom het.
Volgens die bestuurder van die Fortuner het hy die Mercedes in sy truspieël sien aankom. "Ek het besef hy gaan nie betyds stop nie en dit het eers gelyk of hy by die Avanza wil verbysteek, maar toe tref hy die kar."
Die toeriste was na Kaapstad onderweg en is teruggebring na Oudtshoorn waar hulle vir 'n ander motor van 'n verhuringsmaatskappy gewag het.
Lees 'n vorige artikel hier: 2 Duitse toeriste in botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'