OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep van 14 SATSA (Southern Africa Tourism Services Association)-agente het die afgelope naweek, as deel van die 2020 Overberg and Garden Route Mega Fam, Oudtshoorn besoek.
Dit is die eerste toeragente wat, sedert die landwye inperking, die streek besoek het met die oog om toeriste na Oudtshoorn en die Tuinroete te bring.
Volgens Corleen Barnard, toerismebestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, kan daar beslis gesien word dat Suid-Afrikaners die toerismebedryf ondersteun.
"Op Oudtshoorn kan mens ook sien dat ons meer toeriste het. Sommige landsgrense na Suid-Afrika is oop, maar toeriste is huiwerig om te bespreek as gevolg van die onsekerheid oor die pandemie."
Volgens haar het die agente van SATSA veral gefokus op of die gastehuise en besienswaardighede wat die Covid-19-maatreëls nakom.
"Ons kan nie die getalle vermy nie en as ons toerisme aan die gang wil hou is dit van kardinale belang dat die bestemmings sowel as die toeriste by die reëls hou."
Volgens haar probeer bestemmings hard om die plaaslike mark te akkommodeer deur spesiale pakkette aan te bied.
"Om groepe soos die SATSA-agente op Oudtshoorn te ontvang is, veral nou, 'n groot voordeel vir Oudtshoorn. Hoewel daar tans grootliks op die plaaslike, Suid-Afrikaanse mark gefokus word, is ons bly dat agente steeds plekke soos Oudtshoorn met sy ongelooflike natuurskoon kies om toeriste heen te bring."
Corleen Barnard, toerismebestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor (agter regs) saam met van die SATSA-agente wat Oudtshoorn die naweek besoek het. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'