OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Timbercity-Klein-Karoo sake-aflos skuif vanjaar weer terug na die gewilde Baron van Reedestraat-roete en sal op 2 Maart plaasvind.
Volgens Hannes van der Veen, voorsitter van die Klein-Karoo-atletiekfonds (KKAF) is dit moontlik gemaak omdat Oudtshoorn-munisipaliteit as vennoot toegetree het en hulle verbind het tot die logistieke steun wat die borgskap van die verkeersbeheeronkostes insluit.
Volgens Dave van die Walt, operasionele bestuurder van KKAF wat die sake-aflos aanbied, is hy geweldig bly dat Oudtshoorn-munisipaliteit toegetree het as vennoot en genoem dat dit die lewensvatbaarheid van die sake-aflos sal verseker.
Van der Veen sê at Oudtshoorniete in spanverband aan ‘n stap- of hardloopaflos kan deelneem.
"Die hardloopkategorie bestaan uit ses atlete wat elkeen 2 km hardloop terwyl die stapkategorie uit slegs vier bene van 2 km bestaan.
Hardloopspanne kan in vyf kategorieë deelneem, naamlik - mans, dames, gemeng - twee mans en twee dames, Hoërskole en Laerskole. Stapspanne bestaan uit vier persone van enige geslag.
Staats- en semistaatsinstellings soos die SANW, SAPD, DKD, departement van gesondheid, Munisipaliteit, ens, word uitgenooi om spanne in te skryf.
Kostes
- Die koste beloop R25 per deelnemer
- Hardloopspanne R150 per span
- Stapspanne R100 per span
Volgens van der Veen sal alle deelnemers 'n bronsmedalje en die wenspanne in elke kategorie, goue medaljes ontvang. Van der Veen sê dat daar, soos in die verlede, weer 'n "fancy dress-prys" op die spel is vir die span met die mees oorspronklikste kostuum. Daar sal ook heelwat ander gelukstrekkings op die spel wees.
Waar en wanneer vind die sake-aflos plaas:
Die sake-aflos vind plaas in Baron van Reedestraat, tussen Voortrekkerweg en Van der Rietstraat en die begin en eindpunt is regoor die Santa Fe Spur.
Dit begin om 18:00 en sal die prysuitdeling rondom 20:00 reeds afgehandel wees.
"‘n Feestelike atmosfeer word geskep om die inwoners van Oudtshoorn ‘n geleentheid te gee om mekaar beter te leer ken.
Alle deelnemende besighede, skole en instansies mag hulle baniere langs die roete vertoon, vertel van der Veen.
Inskrywingsvorms kan by Oudtshoorn Courant of by die Oudtshoorn-toerismeburo verkry word en weer daar ingehandig word.
Deelnemers kan ook elektronies by https://www.entryninja.com/events/78837-klein-karoo-business-relay inskryf.
"Die KKAF is ‘n nie-winsgewende organisasie wat glo dat om geleenthede vir sportdeelname te skep, dit sal help om sporttalent te ontwikkel en nuwe verhoudings in die Groter Oudtshoorn gemeenskap te skep en te bevorder.
Vanjaar se sake-aflos word weer in samewerking met Jakhals Events aangebied. Die aflos word onder die vaandel van Atletiek-SWD met ondersteuning van die Oudtshoorn-besigheidskamer aangebied.
Van der Veen nooi almal uit om solank hulle spanne vir die sake-aflos gereed te kry in te skryf.
Vir meer inligting kan Corné Botha by 074 260 2871 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'